CrimeNews

Winkel sluit ná geplunder in Polokwane

Die deure van die Vodacom-winkel in die Bela Mall was op Maandag 3 Desember gesluit nadat daar ’n waarskuwing ontvang is dat EFF-ondersteuners dié winkel moontlik wil teiken.

Dit volg nadat ’n groep mense met rooi berette op Sondag 2 Desember die Vodacom-winkel in die Mall of the North in Polokwane geplunder het.

Volgens ’n verklaring van die DA het die aanval op die winkel plaasgevind nadat ’n spreker tydens die onlangse Vodacom Joernalis van Jaar-toekennings ’n foto van Julius Malema en Floyd Shivambu van die EFF met die byskrif: “Misbruikers van demokrasie” in sy toespraak gebruik het.

Die skade aan die winkel en voorraad beloop na raming sowat R500 000. Volgens die DA is niemand in die voorval beseer nie.

Greyling Lamprecht, sentrumbestuurder in Bela-Bela, het by navraag aan Die Pos gesê dat die Fidelity-veiligheidsonderneming die waarskuwing aanVodacom-personeel uitgereik het om versigtig te wees ná wat in Polokwane gebeur het.

Die besluit is geneem om die winkel te sluit en die voorraad in kluise te hou ingeval die winkel geteiken sou word, het Lamprecht gesê. “Die veiligheid van kliënte en personeel is vir ons die belangrikste.”

Lamprecht het gemaan indien winkeleienaars ’n aggressiewe groep mense sien aankom, moet hulle hul winkeldeure sluit en dadelik wegkom.

“Ons kan ’n klein groep beheer, maar as hulle in groter getalle opdaag, raak dit moeiliker.”

Die EFF het intussen hulself van die voorval in Polokwane gedistansieer, maar luidens die DA vertel veiligheidskamera-opnames ’n ander storie.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het vandeesweek kriminele klagtes teen EFF-lede geopen. Hy het die EFF uitgekryt as “gewelddadig wanneer hulle nie hulle sin kry nie” en gesê dat die party “hul vryheid van spraak misbruik”.

  • Vodacom in die Bela Mall was teen druktyd weer oop vir sake.

Related Articles

Back to top button