CrimeNews

Booswigte pak stééds skerp voorwerpe op N1-snelweg

Dit blyk daar is geen einde aan die rooftogte wat op die N1-snelweg tussen die Mantsole-weegbrug en die Codrington-afrit naby Bela-Bela plaasvind nie.

Danksy die vinnige reaksie van motorryers en die Bela-Bela-polisie se flink optrede is drie pogings tot roof die afgelope week afgeweer.

Die betrokke voorvalle het almal ná 21:00 op Sondag 2 Desember plaasgevind toe drie voertuie in afsonderlike voorvalle geteiken is, het konst. Pieter Scheepers, woordvoerder van die Bela-Bela-polisie, gesê.

In die eerste voorval het ’n minibustaxi meganiese probleme naby die Palm Plaza-vulstasie, by die afrit na Bela-Bela ( R516-pad), ondervind en die bestuurder moes noodgedwonge stilhou.

Ses rowers het glo op die voertuig toegeslaan waarna die taxi se insittendes na die nabygeleë vulstasie gevlug het. Die polisie is van daar ontbied, het Scheepers gesê.

Vier polisiebeamptes en ’n lid van die Makanyane Anti Poaching-eenheid is na die toneel ontbied.

Hoewel die booswigte toe al op die vlug geslaan het, is verdagte spore naby die toneel gevind, het Scheepers gesê.

Die polisie het besluit om in die rigting van die Mantsole-weegbrug te patrolleer.

Volgens Scheepers het hulle op twee ander voertuie met onklaar bande afgekom. ’n Volkswagen Polo is naby die Mackenzie-oorbrug gevind en ’n afleweringsvoertuig ongeveer 2 km voor die Mantsole-weegbrug. Dit wil voorkom asof die voertuie oor spykers in die pad gery het, het Scheepers gesê.

Die polisielede het by die voertuie gewag terwyl die motorryers hul bande omgeruil het en weer in die pad kon val.

Scheepers het gesê hy is oortuig daarvan dat drie rooftogte afgeweer is danksy die flink optrede van die taxi se insittendes en die polisie wat pro-aktief opgetree het.

Niemand is tydens die voorvalle beseer nie.

Talle motorryers wat noord na Polokwane of suid na Gauteng reis, het al op dié deel van die snelweg deurgeloop.

Die omliggende buurtwagte van Radium, Tweefontein en die Roodekuil, Turfbult en Langkuil-buurtwag (RTL), ry deesdae gereelde patrollies op die snelweg.

  • Die lede wat uitgesonder word vir hul diens op Sondag 2 Desember is konst. Pieter Scheepers, AO Morné Cloete (hoof van Rust de Winter se sigbare polisiëringsafdeling), Rudi Janse van Vuuren van Makanyane Anti Poaching-eenheid, AO Eddie Moloantwa en konst. Esron Malebye.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button