CrimeNews

Polokwane-vrou nuutste N1-slagoffer

’n Gewapende rower het skielik op haar afgestorm en haar aangehou. Die vrou is van haar selfone en ’n onbekende bedrag kontant beroof voordat die rower gevlug het.

’n Vrou van Polokwane was op Vrydagaand 23 November die nuutste slagoffer van nóg ’n rooftog op die N1-snelweg buite Bela-Bela.

Volgens sers. Hester van Zyl, polisiewoordvoerder van die Bela-Bela-polisie, het die vrou, wie se naam nie bekend gemaak is nie, se voertuig ’n pap band op die snelweg gehad en moes sy van die pad trek.

’n Gewapende rower het skielik op haar afgestorm en haar aangehou. Die vrou is van haar selfone en ’n onbekende bedrag kontant beroof voordat die rower gevlug het. Dit is op hierdie stadium onduidelik of daar meer as een rower by die insident betrokke was, het Van Zyl gesê. Die vrou is geskok, maar verder ongedeerd.

Die voorval het om 22:00 sowat 2 km vanaf die afrit na Bela-Bela en Settlers, die R516-pad, op die snelweg plaasgevind, het Van Zyl gesê.

Motorryers word weer gewaarsku dat die gebied tussen die Mantsole-weegbrug, die Lehau-oorbrug en die Codrington-afrit veral berug is. Verskeie rooftogte is reeds daar aangemeld, het die polisie vroeër gesê.

Van Zyl raai motorryers aan om onder geen omstandighede langs die snelweg stil te hou nie en verkieslik by vulstasies op die roete hul voertuie na te gaan en toilet toe te gaan.

  • Die polisie het onlangs ’n Zimbabwiese man, Brighton Gama (31), aangekla in verband met rooftogte wat in Junie vanjaar op die N1-snelweg plaasgevind het.

    Gama, wat destyds onder die naam Pilane Sithole bekend was, dien reeds ’n vonnis uit vir poging tot voertuigkaping. Hy verskyn op Woensdag 12 Desember in die Bela-Bela-landdroshof op bykomende aanklagte van roof en ontsnapping.

    Gama het verlede jaar uit aanhouding by die Bela-Bela-polisiestasie se selle ontsnap. Hy was toe verhoorafwagtend in verband met die snelweg-rooftogte.
    Hy is steeds in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button