CrimeNews

Bela-Bela se hofrol tjokvol oor feestyd

Bela-Bela se landroshof is druk besig voordat die deure toegetrek kan word vir die Kersvakansie.

Almal wil gewoonlik voor Kersfees begin afskaal, maar daar is nog talle hofsake wat deur die Bela-Bela-landdroshof afgehandel moet word voordat dié kantoor die deure kan toetrek vir die Kersvakansie.

  • Drie verdagtes van Hammanskraal is die afgelope week gevonnis op aanklag van huisbraak.

    Thabo Baloyi, Vincent Manganye en Piet Baloyi is op Woensdag 15 Augustus in hegtenis geneem nadat hulle by ’n huis op die hoek van Grobler- en Moffatstraat ingebreek het. Die eienaars was nie tydens die voorval tuis nie.

    Volgens die polisie het die verdagtes hul rooi Corsa-bakkie by die Bela-Bela-munisipaliteit geparkeer en na die huis gestap om die misdaad te pleeg.

    Thabo is gevonnis tot ’n boete van R3 000 en Manganye is ’n boete van R4 000 opgelê. Die hof het aan albei ’n bykomende opgeskorte vonnis van 12 maande tronkstraf opgelê.

    Piet Baloyi, wat sedert Augustus op borgtog was en sedertdien afsonderlik verskyn het, is tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is.

  • Tatenda Zhou, ’n Zimbabwiese immigrant, is in Oktober in hegtenis geneem nadat daar ’n ernstige ongeluk op die N1-snelweg naby die Bela-Bela- en Settlers-afrit (op die R516) plaasgevind het.

    Twee trokke het in die vroeë oggendure teen mekaar gebots en tot die dood van twee mense gelei. Zhou het na bewering een van die trokke bestuur. Volgens die polisie kon hy nie ’n rybewys aan hulle toon nie en is hy ook van strafbare manslag aangekla. Die polisie beweer voorts dat hy onwettig in die land is.

    Zhou se saak duur op Donderdag 29 November in die hof voort. Hy bly in aanhouding.

  • Jabulani Vincent Mashele, Kabelo Bulwana en Abraham Boshomane is in September in hegtenis geneem, ná die aanval op Andrew Phiri, ’n plaaswerker van Klippan, in die Springbokvlakte-omgewing.

    Volgens die polisie het die vermeende rowers Phiri in Augustus op ’n hoenderplaas aangerand deur hom met ’n strykyster in die gesig en op sy arm te brand om inligting uit hom te kry oor waar kontant op die perseel gevind kon word. Phiri is vasgebind en die vermeende rowers het met R13 000 gevlug.

    Die drie staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede.

    Die drie verskyn weer op Woensdag 5 Desember in die hof. Hulle is steeds in aanhouding.

  • Lede van die Bela-Bela-polisie se misdaadvoorkomingseenheid het in Augustus vir Enzo Mucheo, ’n Zimbabwiese immigrant, in hegtenis geneem. Hy word verbind met ’n vlaag inbrake wat sedert Junie by die Verloren Lifestyle Estate tussen Modimolle en Bela-Bela plaasgevind het.

    Luidens die klagstaat het die polisie tydens sy inhegtenisname verskillende soorte ammunisie, asook twee windbukse, in sy besit gevind.

    Mucheo verskyn op aanklagte van huisbraak, asook die besit van ammunisie.

    Hy verskyn weer op Woensdag 28 November. Die hof wag steeds op die ballistiese verslag. Mucheo bly in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button