CrimeNews

Mans beseer in aanval op N1-snelweg

“My swaer was besig om homself in die vragmotor se kajuit op te trek toe ’n man hom van van agter af aanval en met ’n mes in die kuit gesteek het. My man het reeds agter die vragmotor se stuurwiel gesit en die man het om die kajuit gehardloop en my man in die regter bo-arm gesteek,” het sy gesê.

’n Trokbestuurder en sy swaer is dankbaar dat hulle leef nadat hulle in die nagtelike ure op die N1-snelweg aangeval is.

Hulle nagmerrie-ondervinding, nadat hulle die prooi van twee aanvallers was, het egter ’n mooi nadraai gehad danksy die goedheid van vreemdelinge.

Jan van Wyk en Gert Pretorius was op Maandag 12 November op pad van Pretoria. Net voor die Petroport, het hulle ’n harde klapgeluid teen die bak van hul Scania-vragmotor gehoor. Hulle het van die pad getrek om te kyk wat dit kon veroorsaak, het Debbie van Wyk, Jan se vrou, vertel.

 

Jan van Wyk (bo) is in die arm en Gert Pretorius (onder) in die kuit gesteek toe hulle langs die N1-snelweg deur twee mans aangeval is. Hulle het al bloeiende met hul vragmotor aangesukkel tot by Petroport, waar vreemdelinge hulle te hulp gesnel het.

 

“My swaer was besig om homself in die vragmotor se kajuit op te trek toe ’n man hom van van agter af aanval en met ’n mes in die kuit gesteek het. My man het reeds agter die vragmotor se stuurwiel gesit en die man het om die kajuit gehardloop en my man in die regter bo-arm gesteek,” het sy gesê.

Die aanval het ongeveer 20:30 gebeur.

Pretorius het op sy rug langs die vragmotor gelê. Die mesaanvaller het glo herhaaldelik geskree: “I’m going to stab you!” Van Wyk het tydens die struweling die een aanvaller tussen die bene geskop, waarna hy en sy makker met dit wat hulle kon gryp op die vlug geslaan het. Dit het die mans se beursies, identiteitsdokumente, lisensies, paspoorte, medikasie en selfone ingesluit.

“Jan het vir Gert in die trok ingehelp en die twee bloeiende mans het aangesukkel tot by die Petroport se parkeerarea vir groot voertuie. Toe Jan wou uitklim, het hy geval. ’n Onbekende trokdrywer het nader gehardloop en hom gemaklik gemaak op die grond en my swaer gehelp. Die petroljoggies, veiligheidsmaatskappy se amptenare en personeel van Petroport het kom help. Hulle het lappe gebring om die bloed te stop, suikerwater en soet tee aangedra en die ambulans gebel,” het Debbie gesê.

Hulle het ook later gehelp dat die groot hoeveelhede bloed uit die voertuig gewas kan word.

“Ek en my seun het onmiddellik vanaf Modimolle stad toe gery. By een van die tolhekke het ’n verkeersbeampte ons afgetrek en ek het vir hom gesê hy kan vandag vir my 100 boetes uitskryf, maar ek moet by my beseerde man uitkom. Sy reaksie was: ‘Ry, ek maak solank die pad vir julle skoon’. Hy het vooruit op die radio geroep en sover ons gevorder het, het verkeersbeamptes die pad vir ons oopgemaak; ook by die tolhekke.”

Die twee mans is intussen deur ambulanse hospitaal toe vervoer. “Nadat ons by die vragmotor was en gereël het dat ’n ander drywer die vrag verder bestuur, het ek weer op die snelweg gery. ’n Verkeersman het my van die pad getrek en ek het die pad na die Steve Biko-hospitaal gevra. Dit was al bykans 02:00. Die verkeersbeamptes het ons tot by die hospitaal begelei met ’n motor aan elke kant van ons voertuig. Ek was so dankbaar,” het sy gesê.

By haar aankoms by die hospitaal het Jan steeds nie ’n dokter gesien nie. Haar swaer is in die Tshwane-distrikshospitaal opgeneem. Met die bloeding wat gestop is, het albei mans verkies om terug te keer na Modimole. Dr. Mich Veldman het hul wonde versorg.

“Jan het ’n sny in die waai van sy arm wat sowat 12 cm diep is. Die senuwees is beskadig,” het Debbie gesê.

Sy het gesê dat die twee mans goed herstel en weer aan die gang is.

“Ek is so dankbaar teenoor al die vreemdelinge wat ons gehelp het. Ook aan Jan se werkgewer, Petrus van Heerden, wat ons ondersteun het,” het sy gesê.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, waarsku inwoners om nie snags van die N1 af te trek nie, al het hulle oor ’n verdagte voorwerp in die pad gery.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button