CrimeNews

Klerewinkel-rowers gevonnis

Personeellede wat by van die winkels gewerk het, was erg getraumatiseerd nadat die rowers vuurwapens op hulle gerig en hulle aangehou het.

Vyf rowers wat sowat drie jaar gelede ’n skrikbewind by klerewinkels in die omgewing gevoer het, is uiteindelik agter tralies.

Die winkels wat daardie jaar deurgeloop het, sluit in Edgars Active en Legit in Chris Haniweg in Bela-Bela, asook Total Sports by die Bela Mall en die Exact-klerewinkel in Northam.

Personeellede wat by van die winkels gewerk het, was erg getraumatiseerd nadat die rowers vuurwapens op hulle gerig en hulle aangehou het, het Die Pos destyds berig.

Volgens kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, is vyf rowers nou, ná bykans drie jaar in aanhouding, gevonnis.

Die twee mans wat betrokke was by die Edgars-roof, Vincent Mhlupheki Ndlovu (44) en William Sedi (42), is op Vrydag 16 November in die Groblersdal-landdroshof gevonnis.

Ndlovu is skuldig bevind op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, asook die besit van ’n ongelisensieërde vuurwapen.

Hy is 17 jaar tronkstraf opgelê.

Sedi is 12 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Reginald Thabang Hlaza (35) en Victor Mojalefa Moteane (27) is albei tot 12 jaar gevonnis weens hul betrokkenheid by die roof by Total Sports.

Moteane is ook verbind met ’n roof by die Exact-klerewinkel in Northam, waarvoor die hof hom tot ’n bykomende 15 jaar tronkstraf gevonnis het, het Schutte gesê.

Pride Thabiso Phutiyakgae (37) is saam met Moteane 15 jaar tronkstraf vir die roof by Exact opgelê.

Hoewel daar ook ander verdagtes in verband met dié sake aangekeer is, is hulle mettertyd vrygespreek op die klagtes teen hulle, het Schutte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button