CrimeNews

Zimbabwiër word met 13 sake verbind

’n Zimbabwiër wat vermoedelik onwettig in die land is, het op die harde manier geleer dat sy vingerpunte ’n verdoemende verhaal aan die polisie verklap.

Die 33-jarige Bodia Gumbo, wat volgens die polisie ook die naam Johannes Edgar gebruik het, is laatnag op Dinsdag 16 Oktober in Mamelodi-Oos vasgetrek nadat die polisie inligting bekom het oor vermoedelik gesteelde items in sy besit.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder in Modimolle, het die polisie op Gumbo se woonplek toegeslaan en beslag gelê op onder meer ’n televisie wat tydens ’n inbraak by ’n lodge buite Modimolle gesteel is.

Die polisie het kort daarna Gumbo se vingerafdrukke met nog 12 ander inbrake verbind.

Hy het reeds vlugtig in die hof verskyn, maar moet weer op Donderdag 22 November in die hof wees.

Gumbo het reeds voorheen tyd agter die tralies deurgebring. Hy is in 2010 op 19 aanklagte van huisbraak gevonnis tot 12 jaar tronkstraf. Hy is in 2015 op parool vrygelaat en na Zimbabwe gedeporteer, maar slegs ’n jaar later is sy vingerafdrukke weer op misdaadtonele in Suid-Afrika gevind, het Findlay gesê.Die waarde van die items wat in sy besit gevind is beloop volgens Findlay meer as R100 000.

Related Articles

Back to top button