CrimeNews

Saak teen vermeende aanvaller uitgestel

Ndlovo het in die hof in Modimolle verskyn op ’n aanklag van huisroof met verswarende omstandighede.

Die saak teen Albert Ndlovu, wat daarvan aangekla word dat hy een van vier mans is wat vir Hennie en Marie Coertze vroeër vanjaar buite Bela-Bela aangeval het, is uitgestel tot Woensdag 14 November sodat hy vir regshulp kan aansoek doen.

Ndlovo het op Donderdag 1 November in die hof in Modimolle verskyn op ’n aanklag van huisroof met verswarende omstandighede.

Die Coertze-egpaar, wat in hul sewentigs is, is op Dinsdagoggend 8 Mei net ná 01:00, in hul huis buite Bela-Bela vasgebind en beroof. Hulle is die ouers van dr. Roelof Coertze, ’n mediese praktisyn, van die dorp.

Die aanvallers het op die vlug geslaan met twee voertuie en waardevolle items. Die polisie, in samewerking met lede van die Heritage Protection Group (HPG), het dieselfde dag ’n man in een van die gesteelde voertuie in Winterveld vasgetrek, het Die Pos in Mei berig. Die ander aanvallers is nog op vrye voet.

Die egpaar se gesteelde kragopwekker is kort daarna in die besit van ’n vrou gevind wat glo in ’n verhouding met een van die aanvallers was. Die saak teen Mildred Makondo is reeds afgehandel.

Sy is skuldig bevind op ’n oortreding van artikel 36 en tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnis is opgeskort vir vyf jaar.

Related Articles

Back to top button