CrimeNews

53 in 22-sitplektaxi ingeprop

Die 22-sitplek voertuig, wat op pad was in Pretoria se rigting, het nie minder nie as 53 passasiers vervoer.

Die uitdrukking vol, voller, minibustaxi het op Woensdag 31 Oktober nuwe betekenis op die N1-snelweg buite Modimolle gekry.

Die polisie en verkeersdepartement van Modimolle was stomverbaas toe 53 mense én hul bagasie uit ’n minibustaxi wat op die N1-snelweg voorgekeer is, geklim het. Die bussie het slegs sitplek vir 22 mense.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, was die polisie besig met roetine misdaadvoorkoming en het hulle voertuie vroeg Woensdagoggend op die snelweg naby die tolhek deursoek. Hulle was veral op die uitkyk vir gesteelde motorbande.

Hulle het egter meer gekry as wat hulle verwag het toe hulle kort ná middernag niksvermoedend die minibus met sy donker vensters van die pad getrek het. Die voertuig, wat op pad was in Pretoria se rigting, het nie minder nie as 53 passasiers vervoer. Die insittendes was volgens Findlay almal Zimbabwiërs wat die land onwettig binnegekom het. Die bestuurder se reisdokumente was ook nie korrek nie.

“Die mense sal almal gedeporteer word en die bestuurder word verder ondersoek,” het hy gesê. Daar is ook beslag gelê op die voertuig.

Tragiese verhale van lewensverlies het die afgelope paar weke op dié stuk pad afgespeel met verskeie motorongelukke wat groot lewensverlies tot gevolg gehad het.

Related Articles

Back to top button