CrimeNews

Talle in hof oor misdade in Bela-Bela én Modimolle

Verskeie verdagtes wat verbind word met misdade in die Bela-Bela-omgewing het weer die afgelope week in die Bela-Bela- en Modimolle-landdroshowe voorgekom.

  • Tatenda Zhou (29), ’n Zimbabwiër, is op Donderdag 11 Oktober in hegtenis geneem nadat daar ’n ernstige ongeluk op die N1-snelweg naby die Bela-Bela- en Settlers-afrit (R516-afrit) plaasgevind het.

    Twee trokke het volgens die polisie in die vroeë oggendure teen mekaar gebots waarna twee mense gesterf het. Zhou het na verneem word een van die trokke bestuur. Die polisie het hom op die toneel in hegtenis geneem omdat hy na bewering sonder ’n rybewys was. Hy word van strafbare manslag aangekla en dat hy onwettig in die land is.

    Zhou het op Maandag 22 Oktober in die hof verskyn. Sy saak is uitgestel na Woensdag 31 Oktober vir verdere ondersoek. Hy is steeds in aanhouding.

  • Jabulani Vincent Mashele (24), Kabelo Bulwana (25) en Abraham Boshomane (28) is in September in hegtenis geneem ná die aanval op Andrew Phiri, ’n plaaswerker van Klippan in die Springbokvlakte-omgewing.

    Rowers het Phiri in Augustus op ’n hoenderplaas aangerand deur hom met ’n strykyster in die gesig en op sy arm te brand. Hulle het dit vermoedelik gedoen om inligting te bekom oor waar kontant op die perseel gevind kon word, het die Bela-Bela-polisie vroeër gesê.

    Die rowers het met R13 000 gevlug nadat hulle Phiri vasgebind het.

    Luidens die klagstaat kom Mashele oorspronklik van Hammanskraal en Bulwana en Boshomane van Soshanguve. Die drie staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

    Hulle het op Donderdag 18 Oktober weer in die hof verskyn. Die saak is uitgestel na Dinsdag 6 November vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding.

  • Kapiri Makusha (41), Edmore Chauke (29) en Edmore Moyo (29), al drie Zimbabwiërs, is in September in hegtenis geneem nadat hulle met drie diefstalsake in die Tweefontein-omgewing buite Bela-Bela verbind is.

    Lede van onder meer die Turffontein-buurtwag, asook die Eco Rangers van die Sondela-natuurreservaat, het die verdagtes help aankeer, waarna die polisie die inhegtenisname uitgevoer het.
    Die drie is van huisbraak en diefstal aangekla en het op Maandag 29 Oktober weer in die hof verskyn.

    Makusha en Moyo is elk tot drie jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle skuld beken het op die aanklagte. Hulle vonnis is opgeskort vir vyf jaar. Die aanklagte teen Chauke is teruggetrek.

  • Steve Maluleka (20), Kobus Pholoba (27) en Shimane Monageng (19), drie vermeende reeksinbrekers van Bela-Bela, se hofsake duur ook voort.

    Die drie, wat glo saam misdade gepleeg het, is in Junie in hegtenis geneem nadat verskeie inbrake in Bela-Bela en die town-ship plaasgevind het.

    Hulle is gesamentlik met ongeveer 30 inbrake en diefstalgevalle verbind, het die polisie vroeër gesê.

    Borgtog is in Julie aan Shimane toege-staan, maar hy is kort daarna weer in hegtenis geneem nadat hy glo nog ’n diefstal gepleeg het. Die drie verskyn in aparte sake in die hof.

    Maluleka se saak is na die Modimolle-streekhof oorgeplaas. Hy moet weer op Woensdag 14 November verskyn.

    Monageng se verhoor duur op Donderdag 8 November in die Bela-Bela-landdroshof voort en Pholoba se saak is op Donderdag 25 Oktober in die Bela-Bela-landdroshof hervat.

    Die hof het besluit om Pholoba se saak ook na die streekhof oor te plaas. Hy moet op Maandag 26 November weer verskyn. Al drie is in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button