CrimeNews

Motorbanddiewe sit Bela-Bela-polisie wéér ore aan

Motorbandkenners is van mening dat inwoners wat 15 tot 17 duim-motorbande op hul voertuie het, slotte daarop moet installeer.

Die berugte motorbanddiewe het weer tussen Dinsdag 30 Oktober en Woensdag 31 Oktober in Bela-Bela toegeslaan.

Hierdie sindikaat het sedert Julie talle soortgelyke diefstalle in die omgewing gepleeg.

Selfs inwoners se troeteldiere is oor die laaste twee maande vergiftig, het Die Pos vroeër berig.

In die nuutste voorvalle het twee wonings, onderskeidelik in Soetdoring- en Geelhoutlaan, in die vroeë oggendure deurgeloop waar twee Isuzu bakkies se motorbande gesteel is.

Die twee bakkies is albei Woensdagoggend sonder bande, op bakstene, gevind.

Volgens ’n woordvoerder van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vermoed hulle dat die voorvalle tussen 02:00 en 05:00 die Woensdagoggend plaasgevind het.

Die eienaars van die Isuzu’s is Hilton Kemp en Lucas Jansen van Nieuwenhuizen.

Volgens die GPF is ’n Toyota-bakkie se bande ook op Maandag 29 November in Jinnah Park gesteel.

Natasja Kemp, Hilton se skoondogter, het aan Die Pos gesê die diewe het die elektriese drade op een van die spreiligte op Kemp se erf ontkoppel sodat hulle ongesiens die misdaad kon pleeg.

Teen druktyd was Jansen van Nieuwenhuizen in die proses om sy bande te vervang.

Motorbandkenners is van mening dat inwoners wat 15 tot 17 duim-motorbande op hul voertuie het, slotte daarop moet installeer.

Dié slotte het onder meer vir James Strydom van Visvangerpark, ook in Soetdoringlaan, einde Augustus gered toe diewe sy bande probeer steel het.

Die diewe het egter by sy Mazda-bakkie ingebreek en los items gesteel.

Tot dusver is die Bela-Bela-polisie se ondersoek na die verdagtes onsuksesvol.

Sers. Hester van Zyl, polisie-woordvoerder, het ook beklemtoon dat inwoners slotte moet koop.

Related Articles

Back to top button