CrimeNews

Supermark in puin ná rooftog

Die Spar Savemor-supermark in Pienaarsrivier is verlede week gedeeltelik in puin gelê nadat rowers kitsbanke binne die winkel met ploftoestelle opgeblaas het.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het ses gewapende rowers die winkel op Donderdag 18 Oktober om 20:40 betree en die personeel aangehou.

Volgens Ngoepe het die rowers ploftoestelle by die kitsbanke gestel. Twee kitsbanke is opgeblaas en geld geroof, waarna die rowers hul fokus na die kasregisters verskuif het. Die rowers het met ’n onbekende bedrag kontant gevlug.

“Ondersoeke in die saak duur voort. Gelukkig is niemand beseer nie,” het Ngoepe gesê.

Die rowers het vermoedelik in ’n wit dubbelkajuitbakkie met ’n CA-nommerplaat en ’n rooi BMW gevlug.

Die bakkie het in die rigting van Bela-Bela en die BMW in die rigting van Rust-de-Winter gery, het Ngoepe gesê.

Enigiemand wat inligting oor die voorval het, kan die polisie kontak by tel. 086 001 0111 of deur die polisie se SMS-lyn by tel. 32211.

  • Die Pos het navrae aan die Spar Savemore-bestuur gerig, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button