CrimeNews

Skote klap by Bela-Bela se Wit Olifant-winkel

Waarskuwingskote is afgevuur om die diewe af te skrik.

Skote het op Donderdagaand 18 Oktober in Potgieterstraat in Bela-Bela geklap nadat veiligheidsbeamptes op vermeende inbrekers afgekom het.

Die diewe het ongeveer 22:30 by die Wit Olifant, ’n tweedehandse winkel oorkant die terrein van die departement van openbare werke, by ’n sinkhuisstruktuur ingebreek, het Martin van Blerk, direkteur van die PRSS-veiligheidsmaatskappy in die dorp, by navraag gesê.

Veiligheidspersoneel het op daardie stadium, onbewus van die inbraak, vir ’n roetinebesoek by die perseel opgedaag. Tydens hul inspeksie het hulle twee mense gesien weghardloop. Nadat hulle ondersoek ingestel het, het hulle gevind waar die vermeende rowers toegang tot die gebou verkry het.

Die lid het waarskuwingskote afgevuur om die diewe af te skrik, het Van Blerk gesê.

Een dief het in die rigting van die R101-pad na Modimolle en die ander in die rigting van die nabye stasiegebou gevlug.

Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum se plaaslike reaksiespan (RSRT) is ingeroep, maar die diewe het hulle ontduik.

Die diewe het verskeie artikels waaronder koper in die winkel bymekaar gemaak. Die items is alles teruggekry.

Van Blerk het gesê die diewe het selfs genoeg tyd gehad om koeldrank op die perseel te geniet voor daar op hulle afgekom is. Die Bela-Bela-polisie ondersoek die saak.

Related Articles

Back to top button