CrimeNews

Verdagtes vas ná plaaswerker geroof en met strykyster in gesig gebrand is

Hulle het hom met ’n strykyster in sy gesig en arm gebrand om inligting te bekom oor die kontant wat in die huis is.

Die Bela-Bela-polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem wat verbind word met ’n aanval en roof op ’n plaaswerker van ’n hoenderboerdery by Klippan, Lehau, in die Springbokvlakte-omgewing.

Jabulani Vincent Mashele (24) is op Dinsdag 4 September in hegtenis geneem en Kabelo Bulwana (25) en Abraham Boshomane (28) ’n week later.

Die verdagtes het Andrew Phiri, die plaaswerker, glo op Dinsdag 21 Augustus aangehou en met elektriese kabels vasgebind nadat hulle hom daarvan oortuig het dat hulle die plaas besoek met die doel om hoenders te koop.

Volgens die polisie het die aanvallers Phiri na sy woning en toe na die plaaseienaar se woning geneem op soek na kontant.

Hulle het hom met ’n strykyster in sy gesig en arm gebrand om inligting te bekom oor die kontant wat in die huis is. Die eienaar was nie tydens die roof tuis nie.
Die rowers het altesame R13 000 gebuit en gevlug. Phiri is later deur ’n ander plaas-werker gevind waarna die polisie ontbied is.

Volgens die klagstaat woon Mashele in Hammanskraal en Bulwana en Boshomane in Soshanguve.

Sers. Frans Sekgobela van die Bela-Bela-polisie het die inhegtenisnames uitgevoer en kapt. Renier Schutte is die ondersoekbeampte.

Die drie verdagtes staan in die Bela-Bela-landdroshof tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Borgtog van R1 000 is op Vrydag 21 September aan Mashele toegestaan. Al drie verdagtes ontken skuld op die aanklag teen hulle.

Hulle saak is voorlopig uitgestel na Dinsdag 23 Oktober vir Bulwana en Boshomane se borgtogaansoeke om aangehoor te word. Die twee is steeds in aanhouding.

  • Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), asook die polisie, meen plaaswerkers van die omgewing word geteiken. Die aanvalle vind veral oor naweke plaas wanneer werkers betaal word.

    Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat Alfred Lingela en sy vrou, Annie Selema, onlangs op die plaas Goedvoor in die Tuinplaas-omgewing deur rowers aangeval is. Die plaas is ongeveer 4 km vanaf die Morolong-kafee geleë.

    Selema het onder ’n bed weggekruip toe die rowers vir Lingela vasgebind en op geld aangedring het.

    Die rowers het hom na die plaaseienaar se huis gelei en in ’n kas toegemaak voordat hulle die kluis in die huis probeer oopsaag het. Die rowers het gevlug toe die bure opgedaag het.

    Die saak word verder ondersoek.

Related Articles

Back to top button