CrimeNews

Oppas! Kameras loer nou vir boosdoeners op die pad tussen Bela-Bela en Modimolle

“Ons is bewus daarvan dat sindikate veral in hierdie omgewing besig is. Booswigte word afgelaai en dan opgelaai nadat ’n misdryf gepleeg is. In die meeste gevalle ry hulle terug Gauteng toe.”

Motorryers wat van die R101 tussen Bela-Bela en Modimolle gebruik maak, het die afgelope tyd groen pale met kameras op die roete opgemerk.

Hoewel baie motorryers gedink het dat die kameras vir spoedbeheer opgerig is, is dit in werklikheid ’n inisiatief van die Kariba-buurtwag om misdaad hok te slaan.
Dié buurtwag wil met hierdie projek verdagte voertuie wat in die omgewing rondry dophou en boosdoeners se optrede belemmer, het Kobus Germishuys, voorsitter van die Kariba-buurtwag, by navraag gesê.

“Ons het reeds in 2016 al agtergekom dat misdaad toeneem en dat oorde en eiendomme in die omgewing veral in misda-digers se visier is,” het hy gesê.

“Ons is bewus daarvan dat sindikate veral in hierdie omgewing besig is. Booswigte word afgelaai en dan opgelaai nadat ’n misdryf gepleeg is. In die meeste gevalle ry hulle terug Gauteng toe.”

Die laaste ernstige voorval het verlede jaar in September plaasgevind toe Cecil (83) en Pattie (73) Peterson op hul plaas op dieself-de pad aangeval en vermoor is.

Pattie, wat in die maag gewond is, is op die toneel oorlede en Cecil, wat in die gesig geskiet is, is ses weke ná die aanval in ’n Pretoriase hospitaal oorlede.

Die verdagtes, wat kort daarna in hegtenis geneem is, se hofsaak is intussen na die hooggeregshof in Lephalale oorgeplaas terwyl nog ’n beskuldigde se borgtog-aansoek steeds in die Bela-Bela-landdroshof voortduur. Die mans word van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van gesteelde eiendom en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla. Daar is vroeër in die hof getuig dat hulle van Hammanskraal en weer terug gery het ná die aanval op die Petersons.

Die Kariba-buurtwag het in 2017 ’n fondsinsameling gehou en intussen is ses pale met kameras in dié omgewing, wat die Eersbewoond-pad insluit, opgerig en in werking gestel.

Die projek het tot dusver R180 000 gekos en is deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) goedgekeur, het Germishuys gesê. Die kameras is ook aan die polisie se databasis gekoppel.

“Elke gesteelde of verdagte voertuig wat afgeneem word se inligting word deur gemagtigde persone nagegaan en daar word opgetree indien enige verdagte voer-tuie of mense opgemerk word,” het Germis-huys gesê.

Die data word ook aan die plaaslike verkeersowerhede beskikbaar gestel vir bykomende verkeerswetstoepassing, het hy gesê.

“Hierdie is die eerste fase van ons moniteringstrategie en dit sal hopelik opgevolg word deur die oprigting van ander kameras by voetgangerroetes waar misdaad gereeld voorkom. Dit sal sigbare polisiëring verhoog en tot beter bande met die plaaslike wetstoepassingsorganisasies in die omgewing lei.”

Die Kariba-buurtwag beplan om op Saterdag 3 November nog ’n fondsinsameling buite Modimolle te hou.

Die buurtwag vra skenkings vir dié doel.

Germishuys doen ’n beroep op inwoners om by hul buurtwagte betrokke te raak.

Vir navrae kan mense vir Germishuys bel by tel. 081 249 4978.

Related Articles

Back to top button