CrimeNews

Munisipale padskraper in nag gesteel

Die Bela-Bela-munisipaliteit is voorlopig sonder ’n padskraper.

Rowers het tussen Sondag 30 September en Maandag 1 Oktober veiligheidswagte by die perseel van die departement van openbare werke in Lunaweg oorval en die pad-skraper gesteel.

Volgens die Bela-Bela-polisie het gewapende rowers die twee wagte, wat nie gewapen was nie, vasgebind en die padskraper uitgesoek.
Een van die rowers het glo ’n ander verdagte vanaf ’n selfoon gebel wat toe met ’n swaarvoertuig by die perseel ingekom en die padskraper opgelaai het. Die wagte is ongedeerd.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit gaan weer samesprekings met die veiligheidsmaatskappy voer sodat wagte te alle tye gewapen is. Die voorval het veral die munisipaliteit ontstel, het hy gesê.

“Die saak rakende die gesteelde padskraper sal dringend aandag ontvang sodat die munisipaliteit nie vir lank sonder ’n belangrike diensleweringsvoertuig is nie. Die kontrakteur aan wie die padskraper behoort het, was verseker.”

Die munisipaliteit huur die voertuie tot en met Januarie 2019, waarna die voertuie die eiendom van die munisipaliteit sal word, het Mosito gesê.

Die saak word verder ondersoek. Inwoners wat inligting rakende die rooftog het, kan vir kapt. Renier Schutte, ondersoek-beampte, bel by tel. 082 565 9051.

Related Articles

Back to top button