CrimeNews

Man met mes in gesig gesteek

’n Inwoner van Modimolle staar ’n klag van poging tot moord in die gesig nadat hy ’n man by sy huis in die nek en gesig met ’n mes gesteek het.

Die man se naam kan nie bekendgemaak word alvorens hy aangekla is nie. Hy is nie in hegtenis geneem nie omdat die polisie die saak verder ondersoek, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie gesê.

Die voorval het op Maandagaand ongeveer 21:30 gebeur. Die polisie het op ’n klag van huismoles gereageer en op die beseerde man afgekom, het Findlay gesê. Die slagoffer is volgens hom in ’n ernstige toestand na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

Volgens ’n inwoner wat op die toneel was, is dit onduidelik wat gebeur het. Die slagoffer het volgens hom bloeiend op die bank gesit toe hy daar aankom. Hy is glo die man, wat in ’n rolstoel is, se tuinier.

Daar was teen druktyd nog geen hofdatum vasgestel nie.

Related Articles

Back to top button