CrimeNews

Honde glo deur motorbanddiewe vergiftig

“’n Mens is kwaad, want daardie honde was vir 14 jaar deel van ons huis en die diewe het niks gesteel nie.”

Motorbanddiewe is sedert Julie in die dorp bedrywig en teiken huise wanneer mense slaap. Die meeste slagoffers het voorheen gesê hulle het niks gehoor toe hul voertuigbande gesteel is nie. Paul Liddle, Hoërskool Warmbad se skoolhoof, was in Julie een van die eerste slagoffers.

Tinus Ras, DA-raadslid en Huilboslaan-inwoner, asook Jimmy Enslin, wat in De Beerstraat woon, is tussen Vrydag 28 September en Saterdag 29 September geteiken.
Ras het by navraag gesê sy buurman het hom die Saterdagoggend ingelig dat sy Toyota Fortuner op bakstene by sy huis aangetref is.

Die diewe het, soos met die ander voorvalle, bakstene gebruik om die voertuig op te lig.

“Daar is nie eens ’n teken waar hulle oorgeklim het nie. Gelukkig is my versekering in plek,” het Ras gesê.

Enslin het by navraag gesê sy honde het omstreeks 03:00 die Saterdagoggend aan die blaf, gegaan waarna hy ondersoek ingestel het.

Nadat hy niks vreemds opgemerk het nie en terug na sy slaapkamer gegaan het, het hy sy worshond siek aangetref.

“Daar het skuim by sy bek uitgekom en toe ons die ander worshond buite die huis gaan soek het, het ons hom ook met skuim om die bek gekry. Dit is toe dat ons op ons voertuig afgekom het.”

Drie van die vier motorbande op sy Ford Everest se skroewe was uitgedraai en is op die plaveisel gevind. Enslin vermoed dat die diewe sy honde gif ingegee het toe die honde hulle lastig geval het. Die honde het gemaak dat die diewe nie lank daar was nie, het Enslin gesê.

“’n Mens is kwaad, want daardie honde was vir 14 jaar deel van ons huis en die diewe het niks gesteel nie. Ek dink hulle wou dalk ook die vellings (rims) steel,” het hy gesê.

’n Dag later is Amanda Ferreira Moco se Yorkie en Labrador in die vroeë oggendure in Oosthuizenstraat vergiftig.

“Ons het hulle gehoor blaf en uitgegaan waar hulle besig was om op te gooi en erg te ontlas. Ek is buite myself van woede, want daardie honde het niemand gepla nie,” het sy by navraag gesê.

Sy vermoed dat die diewe die gereedskap in hul erf wou buit.

“Ons besit nie ’n groot bakkie met groot bande nie. Ek dink Bela-Bela is besig om deur hierdie mense geteiken te word en ons moet uitvind wie hulle is.”

Moco het gesê hoewel haar hart seer is, gaan hulle weer ’n nuwe hond kry.

NJ van Heerden, bekende sakeman in die dorp, het op dieselfde dag ’n beloning van R10 000 op sy Facebook-blad aangebied. Van Heerden het in die plasing gevra dat enigiemand met inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisname van die boosdoeners sal lei, na vore moet kom.

Die Bela-Bela-polisie se ondersoek na die vorige, asook die nuwe voorvalle, duur voort. Nog niemand is tot op hede in hegtenis geneem nie.

  • Die laaste keer wat die motorbanddiewe doenig was, was einde Augustus toe inwoners, Mark en Elize Maguire se Ford Ranger in Apiesdoringlaan se bande gesteel is.
    James Strydom se Mazda-bakkie in Soetdoringlaan was ook oor dieselfde tydperk geteiken, maar gelukkig het hy slotte aan die bande gehad. Dit het die diewe egter nie gekeer om by sy bakkie in te breek en items binne die voertuig te steel nie.Kenners het voorheen aan Die Pos gesê hulle vermoed die diewe steel 15-17 duim motorbande. Inwoners word aangeraai om slotte vir hulle voertuie se bande aan te skaf.

Related Articles

Back to top button