CrimeNews

Renosterdag vestig aandag op swartmarkmisdade

Die stroop van renosters loop hand aan hand met ander swartmarkmisdade soos onder meer wapenhandel, dwelms en mensehandel.

Renosterdag is regoor die land op Vrydag 21 September gevier en rolspelers het verskeie pogings vir bewusmaking en die beskerming van renosters onder die publiek se aandag gebring.

Waterberg Academy in Vaalwater het dié geleentheid met albei hande aangegryp en in samewerking met Jessica Babich, sekretaresse van Save the Waterberg Rhino, ’n program vir die dag opgestel. Save the Waterberg Rhino is ’n instansie wat hom beywer vir die beskerming en bewaring van renosters in die Waterberg-streek.

Babich het aan Die Pos gesê die stroop van renosters loop hand aan hand met ander swartmarkmisdade soos onder meer wapenhandel, dwelms en mensehandel.

Die doel van die dag was om die publiek daarvan bewus te maak dat almal se samewerking, asook samewerking met die polisie, die beste teenvoeter vir hierdie probleem is, het Babich verder gesê.

Sy het gesê samewerking tussen die publiek en die regering is belangrik omdat die probleem groot is.

Die polisie het daarom saam met hoërisiko privaat veiligheidsmaatskappye soos Rapid Response Reque (RRR) en West Dunes Aviation gewerk. RRR het onder meer hul K9-hondeeenheid vir die demonstrasies gebruik.

Die polisie het ook een van hul honde daar gehad. West Dunes Aviation kon bystand bied met ’n vlieënier en ’n helikopter toe die polisie weens ’n busongeluk buite Polokwane van hul noodvervoer moes terughou, het Babich gesê.

Verskillende skole in die omgewing is na Waterberg Academy genooi om toeskouers te wees van die “oorlogsonedemonstrasie” waaraan agt stropers, drie foprenosters, skerpskutters, die polisie, RRR en West Dunes Aviation, ’n toneel so reg uit ’n rillerfliek voor die toeskouers se oë laat afspeel het.

Geweerskote, rookgranate, donderflitse en outomatiese geweerskote het die toeskouers se volle aandag geëis.

Die helikopter en skerpskutters, wat aan die buitekant van die helikopter op die voetstukke gestaan het, het ingevlieg gekom. Hoërisiko-demonstrasies is gelewer deur eers ’n kaping en daarna ’n stropingdemonstrasie voor te stel.

Working on Fire (WoF), wat ’n drilparade gedemonstreer het, was ook een van die rolspelers. Die opgeleide honde, wat die stropers vastrek, is ook opgelei om gewere uit te snuffel en het dit op die toneel gedemonstreer.

Mark Godfrey, skoolhoof van Waterberg Academy, het gesê dit sal die samewerking tussen die verskillende rolspelers wees wat ’n impak kan maak.

Ná die demonstrasie kon die toeskouers blad skud met almal en die honde streel.

“Van nou af sal ek te bang wees om aan die skelms se kant te wees. Ek wil misdaad teenwerk en aan die regte kant teen skelms werk,” het een van die leerders gesê toe hy by die honde was. Sy woorde was ’n beloning vir almal wat saamgewerk het om die dag ’n sukses te maak, het Babich gesê.

Related Articles

Back to top button