CrimeNews

Werknemer én werkgewer in hof oor ‘skietery’

Twee mans van Elandsfontein in die Bela-Bela-omgewing — ’n werkgewer en werknemer — het in die Bela-Bela-landdroshof in afsonderlike voorvalle verskyn nadat die werkgewer glo op sy werknemer geskiet het.

Jacobus Johannes Pretorius (64) word aangekla van poging tot moord nadat hy glo op Sondag 8 Julie op sy werknemer, Polite Shikona (33), geskiet het, lui die klagstaat.
Shikona het Pretorius twee dae ná die voorval by die Bela-Bela-polisie aangegee waar dit aan die lig gekom het dat Shikona vermoedelik onwettig in die land is. Shikona is luidens die klagstaat van Zimbabwe.

Pretorius is vrygelaat op borgtog van R1 000 en sy saak is uitgestel na Maandag 1 Oktober vir verdere ondersoek.

Shikona het op Maandag 17 September in die hof verskyn op aanklag dat hy onwettig in die land is. Hy het aangedui dat hy sy eie verdediging sal behartig.

Shikona het die hof emosioneel gevra om hom in hierdie saak by te staan, omdat “die man op my geskiet het”.

Reëlings is getref om hom binne die volgende paar dae vanaf die Bela-Bela-polisieselle, waar hy aangehou word, na die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria oor te plaas, is in die hof gesê.

Sy saak is ook na Maandag 1 Oktober uitgestel. Shikona bly in aanhouding.

Related Articles

Back to top button