CrimeNews

Verdagte vloekend na selle

Die verdagte is deur die Bela-Bela-polisie in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n man in die Koppewaai-omgewing met ’n mes in die bors gesteek het.

Justin Davids (26) van Koppewaai buite Bela-Bela het op Vrydag 14 September vir ’n ligte opskudding in die Bela-Bela-landdroshof gesorg toe hy kliphard sy misnoeë met die verrigtinge uitgespreek het.

Davids is deur die Bela-Bela-polisie in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n man op Sondag 9 September in die Koppewaai-omgewing met ’n mes in die bors gesteek het.

Volgens die Bela-Bela-polisie het die klaer, wie se naam nie bekendgemaak is nie, die aanval oorleef.

Davids het tydens die verrigtinge aangedui dat hy sy eie regsverdediging sal behartig en getuig dat hy geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom het nie.
Abraham Mohlabe, staatsaanklaer, het egter getuig dat dit onwaar is en dat hy wel met ander sake verbind word.

Landdros Gerrit Olivier het gesê die verhoor sal waarskynlik later in die Modimolle-streekhof plaasvind. Olivier het voorts gesê Davids staar moontlik ernstige klagte in die gesig.

Davids se saak is uitgestel na Woensdag 26 September vir sy profiel en borgtogaansoek.

Davids het daarop hard in die hof gesê: “Hierdie is sommer k**” voordat hy na die hofselle teruggelei is. Hy bly in aanhouding.

Related Articles

Back to top button