CrimeNews

Inbrake en diefstalle ’n kopseer

Altesame 853 dwelmsake is volgens die polisie die afgelope jaar in Bela-Bela ondersoek, wat ’n styging van 39,8% toon.

Hoewel die nasionale polisiestatistieke toon dat daar ’n daling in huisbraak- en diefstalsake was, is daar steeds kommer oor die hoë voorkoms van dié soort misdaad.

Die statistieke sluit voorvalle in wat tussen Maart 2017 en April 2018 plaasgevind het.

In Limpopo het inbrake by huishoudings (14 351 sake) en ondernemings (6 716 sake) onderskeidelik met 7,8% en 10,2% gedaal. Dit sluit ander diefstal uit wat met 16,2% gedaal het. Die polisie ondersoek steeds 17 386 diefstalsake in die provinsie.

In Bela-Bela was daar volgens die polisie 408 huisbrake, 86 inbrake by ondernemings en 481 ander diefstalsake oor dié tydperk.

Kol. Lindie Marx, Bela-Bela-stasiebevelvoerder, het vroeër aan Die Pos gesê dat sowat 70% van alle diefstalsake in die omgewing dwelmverwant is.

Altesame 853 dwelmsake is volgens die polisie die afgelope jaar in Bela-Bela ondersoek, wat ’n styging van 39,8% toon.

Intussen duur die hofsake van ’n hele paar diefstalverdagtes in die Bela-Bela-landdroshof voort.

  • Lede van die Bela-Bela-polisie se misdaadvoorkomingseenheid het Enzo Mucheo, ’n Zimbabwiese immigrant, in hegtenis geneem. Hy word verbind met die vlaag inbrake wat sedert Junie by die Verloren-landgoed tussen Modimolle en Bela-Bela plaasgevind het.Hy is op Maandag 27 Augustus in die Bela-Bela-omgewing in hegtenis geneem. Die polisie het verskillende soorte ammunisie en twee windbukse in sy besit gevind. Twee ander verdagtes, wat moontlik by die inbrake betrokke was, word steeds gesoek.

    Mucheo word aangekla van huisbraak en die besit van onwettige ammunisie. Sy hofsaak is uitgestel na Donderdag 27 September vir die forensiese verslag om voltooi te word. Hy is steeds in aanhouding.

  • Steve Maluleka, Kobus Pholoba en Shimane Monageng, wat met amper 30 inbraak- en diefstalsake in die Bela-Bela-omgewing verbind word, se hofsake duur ook voort.Maluleka is Junie in ’n huis in Van Stadenstraat, en Pholoba en Monageng is in die township in hegtenis geneem. Maluleka en Monageng het aanvanklik vir die polisie gevlug terwyl Maluleka onder ’n sitkamerbank probeer wegkruip het, het Die Pos vroeër berig. Monageng het ook onder ’n bed in ’n huis in die township geskuil.

    Monageng het in Julie ’n opgeskorte vonnis vir vier diefstalaanklagte teen hom gekry nadat hy skuld beken het. Hy is egter ’n week later weer in hegtenis geneem toe hy glo kos by ’n huis in die township probeer steel het.

    Sers. Frans Sekgobela, ondersoekbeampte, het vroeër gesê die drie het nooit op dieselfde plek gewoon nie en het veral tuis gegaan in die leë Heropbou- en Ontwikkelingsprogramhuise (HOP-huise) in Uitbreiding 9.

    Maluleka verskyn weer op Donderdag 27 September, Pholoba op Donderdag 20 September en Monageng op Woensdag 3 Oktober. Hulle bly in aanhouding.

  • Simon John Modise is in Bela-Bela in hegtenis geneem weens die besit van ’n Kia Picanto wat vermoedelik in 2010 in Fairlands, Johannesburg, gesteel is. Die voertuig staan steeds by die polisiestasie aangesien die oorspronklike eienaar nog nie opgespoor kon word nie.Konst. Pieter Scheepers van die Bela-Bela-polisie het op Dinsdagaand 14 Augustus die voertuig by die ingang na die Bela-Bela-township van die pad getrek. Scheepers het aan Die Pos gesê hy het die voertuig vanaf die Tsakane-nedersetting op die Eersbewoonpad buite die dorp gevolg.

    Modise se hofsaak is uitgestel na Donderdag 27 September vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

  • Drie verdagtes van Hammanskraal was op Vrydag 14 September weer terug in die hof nadat hulle volgens die polisie op Woensdag 15 Augustus by ’n huis op die hoek van Grobler- en Moffatstraat ingebreek het. Die eienaars was nie tuis nie.
  • ’n Inwoner het die polisie in kennis gestel dat daar ’n verdagte man buite die hek gestaan en rondkyk het. Polisiebeamptes het gou opgetree en die drie, Thabo Baloyi, Vincent Manganye en Piet Baloyi, aangekeer.Die polisie vermoed die drie het hul rooi Corsa-bakkie by die Bela-Bela-munisipaliteit geparkeer en na die huis gestap om die misdaad te pleeg.

    Hulle moet weer op Vrydag 21 September in die hof verskyn. Thabo en Manganye is in aanhouding terwyl Piet op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Related Articles

Back to top button