CrimeNews

Gesin vasgebind en beroof

Die gesin is met skoenveters en plastiekkabels vasgebind terwyl die rowers die huis deursoek het

’n Bela-Bela-gesin is getraumatiseerd nadat hulle in die vroeë og-gendure van Sondag 16 September in hul huis in Van der Merwestraat beroof is.

Die huis is omtrent twee blokke vanaf die Bela-Bela-polisiestasie, wat ook in Van der Merwestraat geleë is.

Volgens sers. Hester van Zyl, polisiewoordvoerder, het die voorval ongeveer 00:30 plaasgevind.

Drie rowers, waarvan een met ’n 9 mm-pistool gewapen was, het toegang tot die huis verkry.

Dit is vir die polisie ’n raaisel hoe die rowers toegang tot die huis verkry het omdat die huis goed beveilig is.

Die rowers het die man, sy vrou en hul jong seun aangehou en op kontant aangedring.

Die gesin is met skoenveters en plastiekkabels (cable ties) in hul seun se slaapkamer vasgebind terwyl die rowers die huis deursoek het, het Van Zyl gesê.

Die rowers het met duisende rande kontant, ’n skootrekenaar, drie selfone en ’n televisie gevlug. Niemand is tydens die voorval beseer nie, het Van Zyl gesê.

Die Pos het die gesin om kommentaar genader, maar hulle was te getraumatiseerd om oor die voorval te praat. Hulle wou ook nie hul name bekendmaak nie.

Indien iemand inligting oor die voorval het, bel asseblief vir kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, by tel. 082 565 9051.

Related Articles

Back to top button