CrimeNews

Boer uit op borgtog ná voorval op grondpad

Die herrie het losgebars ná ’n onderonsie met die insittendes van ’n ander voertuig nadat dié voertuig van die pad af is en teen ’n heining beland het.

’n Boer van Alma is uit op borgtog nadat hy ’n week agter tralies deurgebring het ná ’n voorval met die insittendes van ’n ander voertuig op die Heuningfontein-pad.

 

Willie Barnard, ’n boer van Alma, is op Maandag 17 September op borgtog vrygelaat nadat hy sewe dae in aanhouding was by die Modimolle-polisiekantoor.

 

Willie Barnard (59) het op Vrydag 14 September en Maandag 17 September in die hof in Modimolle verskyn vir ’n borgtogaansoek op tien klagte wat aanranding met die doel om ernstig te beseer, die rig van ’n vuurwapen en crimen injuria insluit. Die hof was tydens die hofverrigtinge volgepak met mense geklee in T-hemde van politieke partye wat gekant is teen sy vrylating.

Barnard ontken skuld op die klagte teen hom.

Die herrie het losgebars nadat Barnard glo op Saterdag 1 September in ’n onderonsie met die insittendes van ’n ander voertuig was nadat dié voertuig van die pad af is en teen ’n heining beland het. Barnard is eers op Maandag 10 September in hegtenis geneem nadat hy op versoek van die Vaalwater-polisie by die stasie aangemeld het, het die hof gehoor.

Volgens getuienis wat die polisie in die hof gelewer het, het die voorval op Saterdag 1 September gebeur toe ’n aankomende voertuig van die pad af is terwyl Barnard en sy vrou, Kathleen, skuins agter mekaar op die grondpad gery het. Die staat beweer dat Barnard twee van die vier insittendes van die voertuig aangerand het en die k-woord toegesnou het.

Konst. Jan Kgomo, ondersoekbeampte, het voor ’n stampvol hof getuig dat Barnard gesê het “die oorlog begin nou” en sy kinders gevra het om “nog wapens te bring”.
Kgomo het getuig Barnard het ’n vorige veroordeling in die 1990’s en hy het ook al verskeie skulderkentenisse vir aanranding betaal.

Landdros Mmatlhapi Tseole het die Vaalwater-polisie geroskam vir die vae inligting wat hulle aan die hof beskikbaar gemaak het. Sy het die staat se argument dat Barnard borgtog geweier moet word omdat dit in die belang van die publiek en gemeenskapsveiligheid is en omdat hy sy verhoor mag ontduik, verwerp. “Sedert die voorval op 1 September totdat hy in hegtenis geneem is op 10 September het daar niks gebeur nie. As daar ’n reus is wat die polisie lamlê van vrees, dan moet hulle mos versterkings inroep. Ek het meer van hulle verwag,” het sy gesê.

“Moet ek iemand borgtog weier net omdat die galery vol was? Niemand hier het ’n lyfwag nodig gehad nie. Ek sal geregtigheid sonder vrees, begunstiging of vooroordeel laat geskied,” het sy gesê.

Barnard is vrygelaat op borgtog van R5 000. Hy moet Vrydae by die Vaalwater-polisie aanmeld en mag nie die gebied sonder die toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie. Hy mag ook nie kontak met die getuies maak nie.

Die saak is uitgestel tot Vrydag 19 Oktober vir verdere ondersoek.

Related Articles

Back to top button