CrimeNews

Vermeende aanvaller laat aansoek vaar

Maringa het veral aandag getrek met sy oorpak met sy naam en die woorde “Not Guilty” agterop.

Een van die vyf verdagtes wat verbind word met die aanval en moord op Cecil (83) en Pattie (73) Peterson van Bela-Bela in September verlede jaar, het sy aansoek om borgtog op Dinsdag 11 September in die Bela-Bela-landdroshof laat vaar.

Lucas Masingi en Thato Surprise Maringa, twee van die beskuldigdes in die saak, is toegelaat om borgtog aansoek te bring nadat nuwe getuienis glo in die saak aan die lig gekom het. Maringa dien reeds ’n vonnis van 12 jaar in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria uit weens ’n vorige veroordeling van roof.

Die Petersons is op Woensdag 13 September 2017 op hulle plaas, TNT Trading, tussen Bela-Bela en Modimolle, deur vyf mans aangeval.

Pattie is in die maag en Cecil in die gesig geskiet. Sy is op die toneel oorlede. Cecil het ses weke ná die aanval in ’n Pretoriase hospitaal gesterf.

Die polisie het kort daarna, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), vyf verdagtes in Hammanskraal aangekeer.

Die verdagtes verskyn op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van gesteelde eiendom en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwa-pen en ammunisie.

Drie van die vyf verdagtes, Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana en Tshepo Tebula, se hofsake is intussen oorgeplaas na die hooggeregshof in Lephalale.

Die verhoor is geskeduleer vir 4-15 Maart aanstaande jaar.

Maringa het verlede Dinsdag onder streng bewaking by die hof opgedaag. Hy het veral aandag getrek met sy oorpak met sy naam en die woorde “Not Guilty” agterop.

Kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het vroeër in die hof getuig dat die polisie met hul ondersoek bevind het dat Maringa voor die aanval op die Petersons ongereelde gesprekke met Mathebula, Tebula en Masingi oor die telefoon gehad het. Mathe-bula, Tebula en Masingi het egter nie met mekaar gesels nie, maar slegs met Maringa, het Schutte getuig.

Op die dag van die aanval was daar meer kommunikasie tussen hulle as gewoonlik.

Maringa was ten tyde van die voorval uit op borgtog, is in die hof getuig.

Schutte en Abraham Mohlabe, staatsaanklaer, het vroeër in die hof gesê daar is geen twyfel dat die verdagtes die misdaad vooraf beplan het nie.

Masingi en Maringa se borgtogsake is aangehoor, waarna Maringa sy aansoek onttrek het.

Maringa sal aanstaande jaar saam met die ander drie beskuldigdes in die hoogge-regshof in Lephalale verskyn. Masingi se borgaansoek gaan weer op Dinsdag 25 September voort.

Al die mans is steeds in aanhouding.

Related Articles

Back to top button