CrimeNews

Slinkse veediewe buit dragtige Bonsmaras

“Die diewe het verskeie plase se drade geknip en die beeste sowat 5 km verder by ’n laaibank op ’n vragmotor gelaai en van daar af verdwyn.”

Veediewe wat in die nag toegeslaan het, het ’n boer van Alma enorme skade berokken toe hulle 23 koeie gebuit het.

Volgens Arno Grater, plaasbestuurder, het die veediewe al die dragtige koeie uit die trop van 40 Bonsmaras gekies. Die kalwers het agtergebly. Die diefstal het op Dins-dagnag 4 September op die plaas op die Boekenhoutspoort-pad naby Alma plaasgevind.

“Ons voer die beeste en het Woensdagoggend besef wat gebeur het. Die diewe het verskeie plase se drade geknip en die beeste sowat 5 km verder by ’n laaibank op ’n vragmotor gelaai en van daar af verdwyn,” het hy gesê.

Die skade is na raming sowat R250 000. Die beeste se eienaar, Renier Erasmus, bied ’n beloning van R30 000 aan. Die rooibruinbeeste is gebrandmerk met die letters CBHD.

AO Hardus Els van die Modimolle-polisie se veediefstaleenheid het die voorval bevestig. “Dit was vir ’n lang tyd stil, maar dit gebeur al hoe meer dat veediewe sulke groot troppe beeste op een slag steel,” het hy gesê. Hy het boere aangeraai om patrollie te ry en bedag te wees op verdagte voertuie.

Grater het gesê hulle het ’n privaat speurder aangestel om met die soektog te help.

Enigeen met inligting kan tel. 071 603 8206 of tel. 082 885 4113 skakel.

Related Articles

Back to top button