CrimeNews

Skroot word glo weggedra ná brand by gastehuis

“Ons vra dat die gemeenskapspolisiëringsforum en die polisie asseblief ondersoek sal instel sodat ons die mense kan vastrek,”

Die Kingfisher-gastehuis buite Bela-Bela se eienaars is moedeloos nadat mense die skroot van dié grasdakrestaurant wat in Junie afgebrand het, sonder goedkeuring begin wegdra het.

Die dorp is vanjaar deur erge brande geteister nadat die Bela-Bela Waterfront in Mei en in Augustus gebrand het. ’n Lodge by die Sondela-natuurreservaat het ook afgebrand en verlede jaar het die dorp se SuperSpar tot op die grond afgebrand.

Die Kingfisher-gastehuis, voorheen bekend as Strawberry Kaya, se restaurant het op Maandagaand 4 Junie afgebrand.

Die Bela-Bela-polisie het ’n saak van brandstigting ondersoek. Hulle het die dag ná die brand ’n verdagte, Frank Mojapelo, wat ’n voormalige werknemer van die gastehuis was, in Roedtan in hegtenis geneem weens die besit van gesteelde eiendom wat glo aan die gastehuis behoort het.

Mojapelo het op Maandag 10 September in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Sy saak is uitgestel na Donderdag 20 September sodat die senior staatsaanklaer oor die pad vorentoe kan besluit. Mojapelo is reeds uit op verlengde borgtog.

Greg Cahi, wat die gastehuis destyds bedryf het, het by navraag gesê die algehele skade van die restaurant beloop R500 000, maar die versekeringseis het intussen uitbetaal.

Die eiendom is egter in die mark en geen sake word meer vanaf die perseel gedoen totdat ’n koper gevind is nie, het Cahi bygesê.

“Die probleem wat ons nou ervaar, is mense wat die skroot vanaf die perseel wegdra. Ons vra dat die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die polisie asseblief ondersoek sal instel sodat ons die mense kan vastrek,” het Cahi gesê.

Veiligheidswagte is ná die brand aangestel om die perseel te beveilig, maar hul kontrak verstryk einde September, het Cahi gesê.

Volgens die polisie is daar nie enige klagte in dié verband gelê nie.

  • Henry Austin, GPF-lid, het by navraag gesê daar is die afgelope tyd verdagtes in die Roodepoort- en Noodhulp-omgewing besig om eiendomme vir skroot en sinkplate te teiken en inwoners moet veral daarvoor op die uitkyk wees.

Related Articles

Back to top button