CrimeNews

Ondersoeker getuig oor moord

Sy arms en bene was glo vasgebind en ’n broekspyp was om sy nek vasgemaak. Daar was vermoedelik kleefband oor sy mond en neus.

Die vyf verdagtes in die moordverhoor van wildplaaseienaar Piet Venter, wat in November 2015 in sy huis vermoor is, is vandeesweek voortgesit.

Ruben Miles, JP Johannesse, Mona Oosthuizen, Christopher Joubert (Oosthuizen se seun) en Louisa Ricco het in die hof in Modimolle voor landdros Pieter Manthata verskyn. Hulle ontken skuld.

Die sesde man wat in hegtenis geneem is ná die voorval, Johan du Toit, het vroeër vir die staat getuig. Volgens sy weergawe het die ses beplan om by Venter se huis in te breek en geld uit sy kluis te steel nadat Venter nie geld vir Ricco wou leen vir ’n projek nie. Joubert en Du Toit het vroeër op die plaas gewerk.

Die hof het in Mei gehoor die nadoodse ondersoek het getoon die 51-jarige Venter het op die toneel weens versmoring gesterf.

Sy arms en bene was glo vasgebind en ’n broekspyp was om sy nek vasgemaak. Daar was vermoedelik kleefband oor sy mond en neus. Oosthuizen, wat in ’n verhouding met Venter was, was ten tyde van die aanval in die huis.

Sakkie Louwrens, ondersoeker van die Heritage Protection Group (HPG), het op Maandag 10 September in die hof getuig oor wat hy op die toneel gevind het. Die hof het gehoor dat Louwrens ’n afgetrede polisiekolonel is met 26 jaar diens as speurder.

Louwrens het getuig sy verantwoordelikheid was om die toneel te beveilig sodat ongemagtigde mense nie toegang daartoe kry nie. Een van die spoorsnyers, Ben Engelbrecht, het twee stelle spore teen ’n draad aan hom uitgewys. Die volgende dag het die spoorsnyers Johannesse in ’n sementdam aangekeer. Daar was ’n kluis en sakke met dokumente wat aan Venter behoort het by hom, het hy getuig.

Louwrens het aan die hof gesê dat hulle inligting ontvang het dat Ricco betrokke was by die aanval. Sy is ondervra en het aan die polisie gesê dat Miles betrokke was. ’n Lokval is vir Miles gestel en hy is meer as 10 km van die plaas langs die grondpad aangekeer. Hy was onder die indruk dat dit Ricco was wat hom kom oplaai het.

Stef Kruger, die prokureur wat vir Ricco en Joubert optree, het kapsie gemaak daarteen dat Louwrens se verklaring eers die oggend voor sy getuienis afgelê is terwyl die voorval bykans drie jaar gelede plaasgevind het. Hy het gesê dit moes kort ná die moord afgeneem gewees het en dat Louwrens op grond van die polisielêer getuig. Louwrens het van hom verskil en gesê hy getuig oor wat hy onthou en volgens wat hy in sy notas geskryf het. Hy het gesê hy het nie gedink sy verklaring is nodig nie omdat diegene wat die verdagtes in hegtenis geneem het, verklarings afgelê het.

Manthatha het beslis dat die notas binne twee weke aan die verdediging beskikbaar gestel moet word.

Die saak word op 20 en 21 November voortgesit. Miles en Johannesse bly in aanhouding en die ander se borgtog is verleng.

Related Articles

Back to top button