CrimeNews

Misdadigers in dorp vasgevat

Die sigbaarheid van die lede wat die sakegebied te voet patrolleer het ’n groot invloed op die statistieke gehad.

Misdaad in Mookgophong en in die omgewing het van Junie tot Augustus vanjaar ’n afname getoon.

Die Pos het by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gaan hoor waaraan hulle dié goeie nuus toeskryf.

Die inligting is verkry uit die verslag wat deur die polisie en GPF in die dorp saamgestel is. Volgens Kobus van Loggerenberg, GPF-voorsitter, het die sigbaarheid van die lede wat die sakegebied te voet patrolleer ’n groot invloed op die statistieke gehad.

“Daar is nie ’n drastiese afname nie, maar ons vorder stadig maar seker,” het hy gesê.

Altesame 94 misdade is in Junie aangemeld teenoor die 81 in Augustus. Die misdade wissel van kleiner diefstalle uit voertuie, inbrake, gewapende rooftogte, verkragting tot ernstige aanrandings en moord.

Aanrandings het ook ’n afname getoon, maar diefstal by ondernemings het van vyf gevalle in Junie na 11 in Augustus gestyg. Dit kan toegeskryf word aan die naderende feesgety en inwoners en sakelui word gewaarsku om altyd paraat en bedag te wees op kriminele aktiwiteite.

Daar was ook ’n afname in inbrake by huise (van 17 gevalle in Junie na 10 in Augustus).

Die misdaadsyfers sluit die woongebied in die dorp en sektor 1, asook die sakegebied en plase binne die grense van die munisipale gebied in.

Die GPF bedank die inwoners wat gereeld in die nagte patrollie ry en wat voorkomend optree.

Van Loggerenberg wys daarop dat alle gevalle egter nie altyd aangemeld word nie en slagoffers word versoek om enige voorvalle dadelik by die polisie aan te meld.

Related Articles

Back to top button