CrimeNews

Jong haarkapper skrik toe man met klapmus op haar afstap

“Ek het gedink hulle wou stilhou en my iets vra, maar toe sien ek ’n man aan die passasierskant wat uitklim en ’n klapmus oor sy kop trek.”

’n Jong haarkapper van Bela-Bela het die afgelope week helder oordag ’n nagmerrie-ervaring beleef.

Marinda Mellish, ’n haarkapper by Thomas-haarsalon in die dorp, het aan Die Pos gesê sy het op Maandag 10 September water by die Asian Market-kafee oorkant KFC in Pretoriaweg gaan koop. Nadat sy oor die pad gestap het in die rigting van Spar, het sy ’n donkerblou voertuig in haar rigting gesien aankom.

“Ek het gehoor hoe die motor al hoe stadiger naderkom, tot amper langs my. Ek het gedink hulle wou stilhou en my iets vra, maar toe sien ek ’n man aan die passasierskant wat uitklim en ’n klapmus oor sy kop trek.”

Mellish het gesê sy het nie eens twee keer gedink nie en begin weghardloop.

“Ek weet nie waarheen die voertuig toe gery het nie en gelukkig het hulle my nie agtervolg nie. Ek kan nie dink wat met my sou gebeur het as ek nie betyds omgekyk en gesien het wat die man doen nie,” het Mellish gesê.

Natasja Kemp, sekretaresse van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die dorp, het by navraag gesê die voorval laat talle vrae ontstaan.

“Mense moet nog meer paraat wees wanneer hulle in die strate loop. Daar is veral deesdae jong kinders wat met selfone en oorfone in die strate rondloop en misdadigers kan hulle daarvoor teiken.”

Sy het voorts gesê dat jong vroue en kinders eerder in groepe in die openbaar moet loop en gereeld om hulle moet kyk, want mense kan maklik slagoffers van misdaad word.

Mellish het gesê die voertuig kon of ’n Toyota Tazz of ’n Volkswagen gewees het, maar sy is nie seker hoeveel insittendes daar was nie.

Die Bela-Bela-polisie het teen druktyd bevestig dat daar geen klag oor die voorval aangemeld is nie.

Inwoners word egter aangeraai om alle verdagte optrede by die Bela-Bela-polisie aan te meld by tel. (014) 736 9760/1. Vir die Plaaslike reaksiespan (RSRT) bel vir Gerhard Olivier bel by tel. 079 527 9988.

Related Articles

Back to top button