CrimeNews

Slotte keer bandediewe

Veral vierwielaangedrewe voertuie se bande word gesteel.

Daar is blykbaar geen keer aan die booswigte wat motors se bande in Bela-Bela steel nie.

Skaars ’n dag nadat Mark en Elize Maguire in Apiesdoringlaan deurgeloop het, het diewe in die vroeë oggendure van Donderdag 30 Augustus probeer om James Strydom van Visvangerpark in Soetdoringlaan se bakkiebande te steel.

Veral vierwielaangedrewe voertuie se bande word gesteel.

Die Maguires se Ford Ranger is, soos al die ander gevalle waaroor Die Pos die afgelope paar maande berig het, op bakstene gelig en al die bande gesteel.

Strydom het aan Die Pos gesê die diewe kon nie daarin slaag om sy bande af te kry nie, want hy het slotte op sy Mazda-bakkie se bande laat installeer.

Die diewe het egter ’n venster oopgebreek en Strydom se beursie, penne en sy GPS gesteel.

“Ek het die middag tussen 17:00 en 18:00 ’n silwerkleurige bakkie in die straat buite die hek gesien, maar ek het niks verdags vermoed nie,” het Strydom gesê. Hy vermoed nou dat dit die boosdoeners was wat die eiendom dopgehou het. “Ons was vas aan die slaap toe dit gebeur het. Ons het niks gehoor nie.”

Kenners meen dat die diewe 17 duim-motorbande in hul visier het. Strydom het egter gesê sy bakkie het 15 duim-bande op.

Hy het verder vertel dat diewe ’n maand gelede die agterdeur van hul huis oopgebreek het, maar gevlug het toe die huis se alarm afgegaan het. Die enigste ding wat hulle kon steel, was ’n selfoon wat op die kombuistafel was, het hy gesê.

Die nuutste diefstal is by die Bela-Bela-polisie aangemeld.

Related Articles

Back to top button