CrimeNews

Moontlike deurbraak in N1-rooftogte

Drie onbekende mans, wat ’n mengsel van Zoeloe en Shona gepraat het, het uit die veld na die motor gekom en een van die rowers het ’n handwapen op hulle gerig.

Die polisie het ’n deurbraak gemaak toe hulle drie vermeende rowers wat motorryers glo geruime tyd tussen die Carousel- en Pumulani-tolhek geteister het, in Hammanskraal in hegtenis geneem het.

Twee verdagtes het egter ontsnap nadat die polisie die groep, wat in ’n bakkie gery het, van die pad getrek het.

Volgens ’n woordvoerder van die Bela-Bela-polisie het een van die minibustaxi’s wat vroeër deur die rowers geteiken is, ’n kamera op die paneelinstrumentbord gehad het.

Dié kamera het die rowers se gesigte duidelik afgeneem waarna die inligting aan die polisie verskaf is.

Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die drie verbind kan word met die talle rooftogte wat sedert die begin van die jaar tussen die Mantsole-weegbrug en die Kranskop-tolhek plaasgevind het.

Die verdagtes word tans in Hammanskraal aangehou.

Nóg ’n rooftog het verlede week op Woensdag 29 Augustus by die Lehau-brug op pad na Codrington buite Bela-Bela plaasgevind toe drie mans wat van Pretoria na Mokopane onderweg was teen ongeveer 22:00 beroof is.

Die mans het na verneem word met hul wit Mercedes Benz oor skerp voorwerpe op die padoppervlak by die afrit gery. Die voorste motorband het gebars en dit het hulle gedwing om stil te hou, het die polisie gesê.

Drie onbekende mans, wat ’n mengsel van Zoeloe en Shona gepraat het, het uit die veld na die motor gekom en een van die rowers het ’n handwapen op hulle gerig, het die polisie gesê.

Een van die insittendes het in die rigting van die Mantsole-weegbrug gevlug terwyl die res van die passasiers aangehou is. Volgens die polisie het die rowers een van die passasiers met die pistool aangerand. Die rowers het onder meer selfone, kontant en bagasie gesteel voordat hulle gevlug het.

Die Pos het vroeër berig dat dié soort rooftogte gewoonlik saans tussen 22:00 en 06:00 plaasvind wanneer motorryers van die pad trek sodat die insittendes ’n draai kan loop of wanneer daar skerp voorwerpe in die pad is wat die motors se bande laat bars.

Die nuutste voorval word ondersoek. Die polisie raai mense weer aan om ui-ters versigtig in hierdie omgewing te bestuur.

Related Articles

Back to top button