CrimeNews

Fopoproepe kos lewens

Een vals oproep ter wille van pret, kan iemand anders se lewe kos.

Dié waarskuwing kom van die nooddienste in Modimolle, wat die afgelope ruk gereelde fopoproepe kry.

“Mense besef nie dat ons in ’n noodgeval soos ’n motorongeluk ambulanse, ’n reddingspan en paramedici uitstuur nie. Dit lok al die mense weg van die stasie en as ’n regte noodgeval dan plaasvind, het ons nie onmiddellik voertuie beskikbaar nie,” het Elsa Nienaber, bestuurder van die beheerkamer in Modimolle, gesê. “Dit verhoog ook ons onkostes aansienlik.”

Dié beheerkamer se noodpersoneel bedien die hele Waterberg.

“Ons is baie besig en sukkel met ’n tekort aan personeel en ambulanse. Ons is ook verantwoordelik vir pasiëntevervoer tussen hospitale. Die fopoproepe plaas ons onder baie druk,” het sy gesê.

Volgens AO. James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, is vals oproepe aan nooddienste ’n misdaad en die skuldiges kan vervolg word.

“Hulle verskaf vals inligting en dit mors tyd en geld. Iemand in nood gaan nie gehelp kan word nie, omdat dat daar aandag aan die fopoproep gegee word,” het hy gewaarsku.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button