CrimeNews

Bosse deeglik deursoek vir misdadigers

Twee vermeende onwettige Zimbabwiese immigrante is in hegtenis geneem en vingerafdrukke is geneem om te bepaal of hulle verbind kan word met inbrake vroeër vanjaar.

Die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en gemeenskap van Mookgophong het op Saterdag 25 Augustus die bosse agter Negende Straat gefynkam om moontlike misdadigers wat daar skuil aan te keer.

Die gedeeltes om die ou begraafplaas en steengroef is ook deursoek.

Sowat 30 GPF-lede en die polisie het aan die klopjag deelgeneem. Dian Bosman het sy hommeltuig ingespan om die werk van die mense wat te voet was, te vergemaklik. ’n Perd is ook gebruik en het gehelp om die bosse te deursoek.

Twee vermeende onwettige Zimbabwiese immigrante is in hegtenis geneem en vingerafdrukke is geneem om te bepaal of hulle verbind kan word met inbrake vroeër vanjaar. Die twee het volgens die polisie in ’n tuisgemaakte sinkstruktuur gewoon. Hulle word daarvan aangekla dat hulle onwettig in die land is en het reeds in die hof in Mookgophong op hierdie klag verskyn.

Volgens die polisie se woordvoerder, AO George Ledwaba, is nog ’n persoon op Donderdag 23 Augustus in hegtenis geneem weens die besit van 120 pakkies nyaope en daar is beslag gelê op R2 730. Die klopjag is deur die openbare orde polisiëringseenheid (Pops) van die Modimolle-groep gedoen. Ledwaba het dit as ’n groot sukses bestempel en gesê hy is verheug dat dié dwelms nie die strate bereik het nie.

’n Verdagte het in die hof in Mookgophong verskyn en borgtog van R1 000 is aan hom toegestaan.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die GPF in Mookgophong, en Ledwaba sal daar in die toekoms gereeld in die bebosde gebiede om die dorp na booswigte gesoek word.

Sers. Marietjie van der Merwe van die polisie in Mookgophong het kinders gemaan om nie in die bosse rond te loop nie aangesien dit gevaarlik kan wees omdat misdadigers moontlik daar skuil.

Related Articles

Back to top button