CrimeNews

Man aangekeer ná beursie op toneel gevind is

Die man het sy beursie met persoonlike inligting by die winkel laat val en toe op die vlug geslaan.

’n Vermeende rower van die Masakhane-nedersetting in die Radium-omgewing het volgens die polisie ’n groot flater tydens ’n rooftog in die Bela-Bela-township begaan wat tot sy en sy “medepligtige” se inhegtenisname gelei het.

Volgens die polisie het ’n gewapende rooftog op Saterdag 4 Augustus by ’n buitelandse sakeman se winkel in die township plaasgevind.

Rowers het glo die winkel met ’n handwapen betree en die eienaar aangehou. ’n Stoeiery het tussen die vermeende rowers en die eienaar ontstaan toe hulle op geld aangedring het. Hulle kon dit regkry om met ’n klomp kontant te vlug.

Een van die mans, Johannes Nghudjulukwa (25), het egter skynbaar sy beursie met persoonlike inligting by die winkel laat val toe hulle gevlug het. Volgens die polisie is Nghudjulukwa op Vrydag 10 Augustus in Masakhane opgespoor en in hegtenis geneem.

Batista Tjinguju (24) wat daarvan verdink word dat hy die ander rower op die toneel was, is op Maandag 13 Augustus aangekeer.

Die mans kom oorspronklik van Namibië en het voorheen in Vingerkraal gewoon, het die polisie gesê. Hulle was ten tyde van hul inhegtenisname wettig in die land.

Nghudjukukwa en Tjinguju het onderskeidelik op Maandag 13 Augustus en op Woensdag 15 Augustus in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklag van roof.

Hulle sou albei op Woensdag 22 Augustus om borgtog aansoek gedoen het.

Albei was teen druktyd nog in aanhouding.

Related Articles

Back to top button