CrimeNews

LUR luister na inwoners se probleme

Probleme wat die gemeenskap onder meer met die verteenwoordigers gedeel het, sluit in ’n gebrek aan polisievoertuie, gereelde huisbrake en inbrake by sakeondernemings, rooftogte, stroping van vee of wild, politieke aanhitsing wat tot misdaad kan lei, gesinsgeweld en ekonomiese omstandighede wat veroorsaak dat mense misdaad pleeg.

Rolspelers, gemeenskapslede en lede van die Bela-Bela-polisie het op Donderdag 16 Augustus en Vrydag 17 Augustus met verteenwoordigers van die LUR van veiligheid en sekuriteit in Limpopo vergader as deel van ’n nasionale gemeenskapsveiligheidsoudit.

Die geleentheid is gehou sodat inwoners hul behoeftes en bekommernisse oor gemeenskapsveiligheid met die verteenwoordigers kon bespreek, waarna ’n finale verslag van al die provinsies teen Desember by Bheki Cele, minister van polisie, moet wees. Die doel hiervan is om misdaad hok te slaan.

Die Pos is ook genooi om deel te wees van die onderhoudproses.

Volgens die LUR se verteenwoordigers val Bela-Bela onder die top tien polisiestasies wat die meeste dwelmmisbruik en dwelmverwante misdaad in die provinsie hanteer. Limpopo het tans 102 polisiestasies.

Lodge-eienaars, veiligheidsmaatskappye, nooddienste, lede van die gemeenskapspo-lisiëringsforum (GPF), onderwysers, inwoners van die Bela-Bela-township en polisielede het die tweedagonderhoudsessie bygewoon.

Probleme wat die gemeenskap onder meer met die verteenwoordigers gedeel het, sluit in ’n gebrek aan polisievoertuie, gereelde huisbrake en inbrake by sakeondernemings, rooftogte, stroping van vee of wild, politieke aanhitsing wat tot misdaad kan lei, gesinsgeweld en ekonomiese omstandighede wat veroorsaak dat mense misdaad pleeg. Laasgenoemde word egter beskou as geen verskoning om misdaad te pleeg nie.

Daar is ook gesê dat hoewel buurtwagte en die gemeenskap die polisie met misdaadbekamping bystaan, sou buurtwagte nie bestaan het indien die gemeenskap werklik veilig gevoel het nie. Al het inwoners beter veiligheidsmaatreëls by eiendomme aanbring, kry boosdoeners dit steeds reg om die veiligheidsmaatreëls te omseil, is daar verder gesê.

Die enigste polisiëringsareas in Limpopo wat deel vorm van die oudit, is Bela-Bela, Phalaborwa en Mopani, het die verteen-woordigers gesê.
Die gemeenskap en verteenwoordigers van die LUR se kantoor hoop dat hierdie insette ’n verskil aan gemeenskapsveiligheid sal maak.

Related Articles

Back to top button