CrimeNews

‘Diewe’ op heterdaad in huis betrap

’n Verdagte het glo erken dat sy medepligtiges reeds binne die huis was wat besig was om goedere bymekaar te maak.

Drie vermeende diewe van Hammanskraal was verbaas toe die Bela-Bela-polisie hulle op Woensdag 15 Augustus binne ’n huis op die hoek van Grobler- en Moffatstraat betrap het.

Die eienaars was nie tydens die inbraak tuis nie.

Volgens die Bela-Bela-polisie het ’n lid van die publiek die polisie die middag in kennis gestel dat daar ’n verdagte persoon by die eiendom se hek gestaan en rondgeloer het.

Beamptes het uitgegaan en op die verdagte afgekom.

Die verdagte het toe glo erken dat sy medepligtiges reeds binne die huis was, waarna die beamptes op die ander twee, wat besig was om goedere bymekaar te maak, afgekom het.

Al drie is in hegtenis geneem.

Die diewe het volgens die polisie ’n deur en ’n venster van die huis oopgebreek om toegang te verkry.

Die polisie het later gevind dat die ver-dagtes vermoedelik ’n rooi Corsa-bakkie met ’n Noordwes-nommerplaat by die Bela-Bela-munisipaliteit geparkeer het en ’n blok ver na die eiendom waar hulle ingebreek het, gestap het.

Die polisie het op die bakkie beslag gelê. Volgens die polisie het die verdagtes nie eens die bakkie se vensters toegedraai terwyl dit by die munisipaliteit se parkeer-terrein gestaan het nie.

Die drie verdagtes, Vincent Manganye, Thabo en Beat Baloyi het op Vrydag 17 Augustus op aanklag van huisbraak in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

Hulle sou op Dinsdag 21 Augustus aansoek gedoen het om borgtog, maar teen druktyd was die uitslag van die aansoek nie bekend nie.

Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof in die dorp, het gesê die polisie is besig met ondersoeke om te kyk of die drie met ander verwante misdade verbind kan word.
Die drie is steeds in aanhouding.

Related Articles

Back to top button