CrimeNews

Honde vergiftig toe diewe bande steel

“Ons het blou spikkels en iets soos ’n swarterige mengsel van die gif wat die hond ingekry het, op die erf gevind en probeer verwyder.”

Diewe het die afgelope week weer in Bela-Bela toegeslaan en twee inwoners se voertuigbande uit hul erwe gesteel.

Willie Claassens, eienaar van HiQ in die dorp, se Toyota Hilux-bande is op Donderdagaand 9 Augustus in die Olienhoutpark-veiligheidskompleks in Soetdoringlaan ge-steel.

Diewe was volgens die polisie in Julie veral bedrywig in Swanepoel- en Roodepoortstraat, die Bela-Bela-township, asook in die Buyskop-omgewing buite die dorp waar hulle meestal vierwielaangedrewe-voertuie se bande gesteel het. Die polisie vermoed dat ’n sindikaat in die omgewing doenig is en dat die voorvalle met mekaar verband hou.

Claassens het by navraag gesê die wind het die Donderdagnag erg gewaai. Hy was ongeveer 02:00 buite die huis, maar het kort daarna gaan slaap.

Hy vermoed dat diewe ongeveer 03:00 oor die veiligheidskompleks se muur geklim en hul weg na sy motorhuis gevind het. Al vier sy bakkie se bande is gesteel. Die diewe het ook ’n fiets gesteel.

“Hulle was eers by my buurman waar hulle sy bakstene gevat en my bakkie daarmee gelig het,” het hy gesê. “Dit raak nou ’n probleem en dit het nogal in ’n veiligheids-kompleks gebeur. Mense sal maar slotte vir hul voertuie se wiele moet aanskaf.”

Merke waar die diewe vermoedelik oor die kompleks se muur geklim het, is die volgende dag opgemerk. Die polisie ondersoek die saak.

Claassens sê hy vermoed dat die diewe 17 duim-motorbande in hul visier het, wat veral op Toyota Hilux’e en Fortuners gekry word.

“Mense moet maar waaksaam wees en be-sef as die honde buite blaf, is iets nie pluis nie. Hierdie diewe is vinnig en baie slinks.”

  • Diewe het ook in die vroeë oggendure van Donderdag 9 Augustus motorbande van ’n Ford Ranger in die dorp gesteel. Hierdie keer het die voorval in Huilboslaan plaas-gevind — ook terwyl die inwoners niks-vermoedend geslaap het.

Twee van dié eienaars se honde is ook vergiftig.

Gerbie Mir en haar man het by navraag gesê hulle het die Donderdagoggend om 01:30 gehoor toe een van die honde histeries blaf, maar hulle het niks verdags vermoed nie.

Toe hulle die volgende oggend om 06:00 werk toe wou gaan, het hulle die Ford op bakstene, sonder enige bande, gevind.

Mir het gesê die diewe het vermoedelik die bakstene van hul buurman gebruik om die Ford te lig. Hulle het glo ook probeer om hul ander voertuig, ’n Fortuner, se bande te steel, maar kon dit nie regkry nie.

Die gesin het die oggend op hul Jack Russel-worshondkruising by sy hondebed in die motorhuis afgekom. Die dier is ver-moedelik vergiftig.

“Sy braaksel en uitskeiding was oral. Hy het regtig gely,” het Mir gesê. “Ons het blou spikkels en iets soos ’n swarterige mengsel van die gif wat die hond ingekry het, op die erf gevind en probeer verwyder.”

Die gesin se Doberman-worshondkruising is later die dag dood — vermoedelik nadat hy ook van die gif ingekry het. Die gesin het die twee honde vir amper sewe jaar gehad.
Mir het gesê hulle beoog om beter vei-ligheidsmaatreëls op hul eiendom aan te bring. Hulle het intussen nuwe honde gekry.

Nog niemand is in verband met die string diefstalle in hegtenis geneem nie. Die polisie raai inwoners aan om die polisie te kontak indien hulle iets verdags vermoed of inlig-ting oor die voorvalle het.

  • Skakel die Bela-Bela-polisie by tel. (014) 736 9760/1. Vir die Plaaslike reaksiespan (RSRT) bel vir Alex Poalses by tel. 083 252 3030 of vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988. Janes Boshoff, voorsitter van die AfriForum-tak in die dorp, kan ook by tel. 072 492 7087 gebel word.

Related Articles

Back to top button