CrimeNews

GPF in Mookgophong slaan misdaad hok

Enige verdagte optrede of oortreder word dadelik aangekeer en die polisie is byna onmiddellik op die toneel om oortreders in hegtenis te neem.

Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Mookgophong, het ’n passie om misdaad hok te slaan.

Van Loggerenberg het ’n groep van agt uitgesoekte jong lede gewerf om die hoofstraat in die dorp en die ondernemings in Mookgophong daagliks te patrolleer. Hulle is elk toegerus met ’n glimbaadjie, sowel as twee tweerigtingradio’s waarmee hulle met hom in kontak is. Van Loggerenberg is weer in kontak met die plaaslike polisie.

Volgens Van Loggerenberg het die groep tydens die onlangse Bokkieweek ook die parkeerareas by die skool besoek en hy is baie trots om te kan sê dat hy nie bewus is van enige klagtes tydens dié week nie.

“Ons het wel twee vermeende dwelmhandelaars buite die terrein aangekeer en na die polisiestasie geneem,” het hy aan Die Pos gesê.

“Hierdie agt mense werk nie teen enige vergoeding nie, maar is nes jy en ek moeg vir misdaad en daarom help hulle die gemeenskap. Hulle kry smiddae by ’n paar ondernemings ’n bord kos,” het Philip van Staden van AfriForum in Mookgophong gesê.

Enige verdagte optrede of oortreder word dadelik aangekeer en die polisie is byna onmiddellik op die toneel om oortreders in hegtenis te neem.

Die afgelope paar maande is talle verdagtes met dwelms aangekeer, asook persone wat in die openbaar gedrink het.

Daar is egter volgens Van Loggerenberg ’n dramatiese afname in diefstal uit voertuie in die dorp.

Van Loggerenberg het vir Andries Vosloo, wat ’n plaaslike veiligheidsonderneming het, om hulp genader om met opleiding, glim-baadjies, asook tweerigtingradio’s te help. Van Loggerenberg het gesê dat elke motorwag tydens die komende week deur die polisie gekeur sal word, waarna opleiding sal begin.

Inwoners van die dorp en veral die bejaardes sal sonder vrees inkopies kan gaan doen, het hy gesê.

“Albei die twee groot kruidenierswinkels in die dorp steun hierdie projek. Daar word ook met ander ondernemings met groot parkeerterreine onderhandel om deel van die projek te word.”

“Danksy die ondersteuning van inwoners en sakemanne, maar veral die polisie, gaan ons ’n veiliger Mookgophong hê,” het Van Staden gesê.

Bel vir Van Loggerenberg by tel. 081 562 8702.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button