CrimeNews

Staat beweer Elrina is verwurg

Van Tonder is in Januarie vanjaar van moord aangekla nadat sy vrou, Elrina onder verdagte omstandighede dood verklaar is.

Herman van Tonder, eienaar van die luukse Mbizi Game Lodge & Spa buite Bela-Bela, sal eers in Maart 2019 in die hooggeregshof in Lephalale verhoor word weens die be-weerde moord op sy gewese vrou.

Die Bela-Bela-landdroshof het die saak tydens Van Tonder se verskyning op Vrydag 3 Augustus na Lephalale vir verhoor oorgeplaas nadat ’n opdrag in dié verband van die direkteur van openbare vervolging (DOV) ontvang is.

Van Tonder is in Januarie vanjaar van moord aangekla nadat sy vrou, Elrina, in November 2014 in die St. Vincent’s-hospitaal (nou bekend as die Phodi-kliniek) in die dorp onder verdagte omstandighede dood verklaar is. Daar is vroeër beweer dat sy weens inwendige bloeding dood is.

Die akte van beskuldiging is reeds op Van Tonder beteken, het die hof Vrydag gehoor.

Luidens dié dokument het Van Tonder en Elrina ’n stormagtige huwelik gehad. Die egpaar was luidens die dokument alleen by hul woning op die aand van 5 November 2014. Van Tonder het die volgende oggend met Elrina, wat toe reeds dood was, by die hospitaal opgedaag. Hy het glo beweer dat sy in sy teenwoordigheid aan natuurlike oorsake gesterf het.

Sy het egter beserings gehad en ’n nadoodse ondersoek het getoon dat sy waarskynlik verwurg is, lui die dokument.

Van Tonder het Vrydag, soos met sy vorige verskynings, by die hof opgedaag met familie en vriende wat hom ondersteun.

Sy regspan het die hof tydens sy verskyning in Mei vanjaar vir afskrifte van die ondersoekdossiere gevra. Dié dokumente is reeds aan hulle oorhandig, het die hof ge-hoor.

Borgtog van R15 000 is in Januarie vanjaar aan Van Tonder toegestaan en hy moes gereeld by die Bela-Bela-polisiekantoor aanmeld. Daar is ook bepaal dat hy nie met getuies in die saak mag inmeng nie en hy moes sy paspoort indien as deel van sy borgtogvoorwaardes.

Van Tonder se prokureur het die hof Vrydag gevra om die borgtogvoorwaardes te verlig aangesien Van Tonder glo op vakansie wil gaan.

Landdros Gerrit Olivier het die versoek toegestaan en Van Tonder se borgtogvoorwaardes is opgeskort.

Kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het by navraag gesê Van Tonder het nie sy paspoort teruggekry nie, maar hy hoef nie meer by die polisiestasie aan te meld nie. AO Tommy van Blerk was die aanvanklike ondersoekbeampte, maar hy is in Maart vanjaar oorlede.

Van Tonder se verhoor is geskeduleer vir 4-8 Maart 2019 in die rondgaande hooggeregshof in Lephalale. Sy borgtog is verleng.

Related Articles

Back to top button