CrimeNews

Polisie verwelkom Bela-Bela-moordenaar se swaar vonnis

Molaudzi het haar 12 keer met ’n mes in die nek gesteek.

Die Bela-Bela-polisie het Vrouemaand (Augustus) met ’n suksesvolle vonnis afgeskop nadat ’n man van Bela-Bela op Donderdag 2 Augustus lewenslange tronkstraf in die Lephalale-hooggeregshof opgelê is weens die moord op sy vriendin.

Volgens die Bela-Bela-polisie is Silas Silence Molaudzi (30) op Sondag 23 April 2017 in hegtenis geneem nadat sy vriendin, Mirriam Sedie Nkele (33), se liggaam op dieselfde dag in sy huis in Uitbreiding 5 in die Bela-Bela-township gevind is. Sy is vermoor, ondanks die feit dat sy voor haar dood ’n beskermingsbevel teen Molaudzi bekom het.

Molaudzi het haar 12 keer met ’n mes in die nek gesteek, het die polisie gesê. Die misdaad het volgens die polisie iewers tussen Donderdag 20 April en Sondag 23 April plaasgevind.

Die hof het gehoor Molaudzi was ten tyde van die misdaad onder die invloed van alkohol en het ook ’n ander inwoner se voertuig beskadig deur die windskerm te breek.
Die polisie het voorts vasgestel dat Molaudzi ’n beskermingsbevel wat Nkele vroeër teen hom ingedien het, oortree het.

Die beskuldigde is ná meer as ’n jaar in aanhouding skuldig bevind op aanklagte van moord, opsetlike saakbeskadiging en aanranding. Hy is lewenslange tronkstraf opgelê.

AO Dana Smith van die Bela-Bela-polisie was die ondersoekbeampte in die saak.

  • Byron Makhenzi (29), ook ’n Bela-Bela-inwoner, is op dieselfde dag gevonnis nadat hy twee keer beskermingsbevele oortree het.Luidens die uitspraak, waarvan Die Pos ’n afskrif het, het Makhenzi vanjaar op Woensdag 28 Maart en op Woensdag 25 April ’n beskermingsbevel van ’n persoon in die omgewing wat voorheen ná aan hom was, oortree.

    Hy is gevonnis tot ’n boete van R3 000 of nege maande tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar. Sou Makhenzi weer oortree, sal hy direk tronk toe gestuur word, lui die uitspraak.

Related Articles

Back to top button