CrimeNews

Peterson-saak in 2019 hervat

Die egpaar was besig om ontbyt te eet toe hulle aangeval is.

Die vyf verdagtes wat in verband met die moord op Cecil (83) en Pattie (73) Peterson van Bela-Bela aangekeer is, sal eers in 2019 verhoor word.

Die Bela-Bela-landdroshof het verlede week beslis dat die saak na die rondgaande hooggeregshof in Lephalale oorgeplaas is.

Die Petersons is in September 2017 op hul plaas TNT Trading buite Bela-Bela deur ’n groep rowers aangeval.

Pattie is in die maag en Cecil in die gesig geskiet. Sy is op die toneel dood en Cecil het ses weke later in ’n Pretoriase hospitaal gesterf.

Die egpaar was besig om ontbyt te eet toe hulle aangeval is, het Die Pos vroeër berig.

Die vyf verdagtes, Piet Mathebula (32), Mpho Nico Nkonyana (22), Tshepo Tebula (37), Lucas Masingi (49) en Thato Surprise Maringa (31), word aangekla van moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Nkonyana verskyn ook op ’n bykomende aanklag vir die besit van ’n gesteelde selfoon wat vermoedelik aan een van die plaaswerkers by TNT Trading behoort het.

Die polisie het die beskuldigdes kort ná die aanval, in samewerking met lede van die Heritage Protection Group (HPG), in Hammanskraal in hegtenis geneem.

Luidens die klagstaat is afskrifte van die aanklagte teen die beskuldigdes aan vier van die vyf beskuldigdes se regsverteenwoordigers oorhandig en die inligting wat daarin vervat is, is reeds aan die beskuldigdes verduidelik.

Maringa het in die hof aangedui dat hy sy eie verdediging wil behartig, al het die hof hom aangeraai om vir regshulp aansoek te doen.

Die vyf se verhoor is op die hofrol geplaas vir 4-15 Maart 2019.

Mathebula, Nkonyana en Tebula se borgtog is geweier. Masingi en Maringa verskyn weer op Woensdag 8 Augustus in die Bela-Bela-hof vir ’n aansoek om borgtog.

Maringa het vroeër in die hof beken dat hy in 2011 skuldig bevind is op ’n klag van voertuigkaping en dat hy 12 jaar tronkstraf daarvoor opgelê is. Hy het voorts beken dat nóg sake vir die besit van ’n gesteelde voertuig, roof en moord teen hom ondersoek word.

Al vyf verdagtes is steeds in aanhouding.

Related Articles

Back to top button