CrimeNews

Vakansiegangers in nag besteel

Elke venster en deur was gesluit voordat hulle gaan slaap het.

Vakansiegangers van Pretoria is steeds geskok nadat hulle die naweek van 20 Julie in ’n wooneenheid by die Sondela-natuurreservaat besteel is terwyl hulle geslaap het.

Annemarie Herbst en haar man, Marius, het saam met hul seun en twee familielede, Hennie en Ragie le Roux, vir ’n week by die reservaat ingeboek, het Annemarie aan Die Pos gesê. Die familie is veral ywerige fotograwe. Hulle het op Donderdag 19 Julie by die reservaat aangekom.

Annemarie het vertel dat hulle die Vrydag uit was om foto’s in die reservaat te neem en die middag teruggekeer het na hul wooneenheid.

“Ons het die vuur aangesteek, lekker gekuier en teen ongeveer 23:00 gaan slaap. Ragie het ongeveer 04:17 wakker geword en na haar selfoon gesoek. Toe ons besef wat gebeur het, was ons uiters geskok.”

Volgens haar was elke venster en deur gesluit voordat hulle gaan slaap het.

Die diewe het glo, terwyl almal geslaap het, ’n venster oopgebreek en toegang tot die wooneenheid gekry. Hulle het volgens Annemarie van kamer na kamer — waar almal geslaap het — beweeg en items bymekaar gemaak voordat hulle gevlug het.

Sy het gesê hul selfone, duursame Canon- en Nikon-kameras, ’n skootrekenaar, ’n bagasiesak, klere en kontant is uit Ragie se handsak gesteel. Die kameras was nie verseker nie.

Die familie het hulp ontbied en ’n saak by die polisie geopen.

“Elke persoon wat op vakansie gaan moet bewus en meer paraat wees dat hierdie voorvalle selfs by vakansieoorde kan plaasvind. Ons dank net die Here dat ons steeds leef.”

Die reservaat het die familie intussen om verskoning gevra oor die voorval.

Annemarie het voorts gesê hulle slaap sedert die voorval sleg en ontvang berading.

Die Bela-Bela-polisie het by navraag gesê hulle ondersoek ’n saak van huisbraak, maar nog niemand is in hegtenis geneem nie. Vingerafdrukke is reeds op die toneel geneem vir forensiese toetse.

* Teen druktyd het Sondela nie op Die Pos navrae gereageer nie.

Related Articles

Back to top button