CrimeNews

Opgeskorte vonnis ná ongeluk

Venter se Ford Ranger-bakkie het Van der Walt op sy motorfiets getref.

’n Man wat in 2016 ’n motorongeluk veroorsaak het wat die lewe van drie jongmense geëis het, is tot vier jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is en hy moet ’n bedrag aan die kinders se ouers betaal.

Ignaasius Venter (35) het op Woensdag 25 Julie skuld beken op ’n klag van strafbare manslag, nadat Emil van der Walt (20), Alinah (15) en Mokgadi Raboshakga (18) in Januarie 2016 dood is in ’n motorongeluk.

Van der Walt was van Bela-Bela en die Raboshakga-susters van Phagameng.

Die hof het bepaal dat Venter ’n bedrag van R120 000 aan Van der Walt se ma moet betaal en R140 000 aan die twee meisies se pa.

Die ongeluk het op 2 Januarie 2016 om ongeveer 19:00 voor die Sleep n Go-gastehuis in Modimolle gebeur.

Volgens die pleitooreenkoms van die staat was Venter op pad hospitaal toe met ’n familielid wat gesukkel het om asem te haal. Venter het glo sowat 300 m voor die krui-sing van Alf Makalengstraat en Thabo Mbekiweg sy oë van die pad geneem omdat die familielid vooroor in sy sitplek geval het en hy hom wou regop help.

Venter se Ford Ranger-bakkie het kort daarna vir Van der Walt op sy motorfiets getref. Die bakkie se lugsakke het ontplooi en die voertuig het daarna die Toyota Tazz wat voor Van der Walt gery het, getref.

Die twee Raboshakga-susters wat op die sypaadjie gestap het op pad terug huis toe, is deur dié voertuig wat beheer verloor het, getref.

Die bestuurder van die Toyota was ongedeerd, maar Van der Walt en die twee susters is op die toneel dood.

Related Articles

Back to top button