CrimeNews

Diewe plunder vir kos, fone en elektroniese ware

Die Bela-Bela-omgewing het in Julie swaar onder misdaad deurgeloop.

Huisbrake en inbrake by sakeondernemings het, volgens die polisie se Julie-misdaadverslag, gereeld voorgekom.

Bospoort het deurgeloop toe daar tussen Saterdag 28 Julie en Sondag 29 Julie by die Berghsig-gastehuis ingebreek is. Rekenaartoerusting, tablette, selfone en juweliersware is gesteel.

Die diewe het volgens die polisie vermoedelik toegang tot ’n wooneenheid gekry deur ’n deur oop te breek.

Niemand was ten tyde van die inbraak tuis nie.

’n Paar inwoners wat die Sondag met hul honde in die Bospoort-omgewing gaan stap het, het op ’n kluis en juwelehouers afgekom — omtrent ’n blok van waar die gastehuis geleë is, het die polisie gesê. Die items wat teruggevind is, behoort sover vasgestel kan word, aan die gastehuis.

Natasja Kemp, voorsitter van die Bospoort-buurtwag, het gesê twee verdagtes was vermoedelik by die inbraak betrokke.

Dit is moontlik dieselfde verdagtes wat wat voorheen misdade in die omgewing gepleeg het, het sy gesê.

Die Julie-verslag het verder aangedui dat huise in Moffatstraat, Ludorfstraat, Lunaweg, Pienaarstraat, Robbertsonweg, in die Bela-Bela township, Eau Montagne-, Verloren-landgoed, Langkuil, Droogekloof, eiendomme op die Eersbewoondpad, Tweefontein en Lehau geteiken is.

In die meeste gevalle is kos, klere, elektroniese toestelle, juwele, kontant en televisiestelle gesteel.

Ondernemings in die township, Lehau, Minaarstaat, Oosthuizenstraat, Indus-triaweg en Chris Haniweg het ook deurgeloop. Diewe het by twee plekke, by ’n nywerheidswinkel in 2nd Avenue in die township en by die Lewis-meubelwinkel in Chris Haniweg, deur die dak toegang tot die eiendomme verkry.

Die diewe het ook onder meer rekenaartoerusting, televisiestelle en elek-troniese toestelle gesteel.

Die diewe het by die ander eiendomme ook die deure oopgebreek of die slotte geknip om toegang tot die persele te verkry, het die polisie gesê.

Daar was ook rooftogte in Julie in Moloto- en Industriaweg en in Roodekuil waar mense van hul selfone en kontant beroof is.

* ’n Gemeenskapsvergadering rakende die misdaadsituasie vind op Dinsdag 7 Augustus om 18:00 by die Bela-Bela-polisiestasie plaas. Bospoort-inwoners word veral aangeraai om die vergadering by te woon.

Related Articles

Back to top button