CrimeNews

Buurtwagte hou inwoners veilig

“Die doel van die nasionale patrollie was om sigbaarheid te verhoog en samewerking te verbeter.”

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het sigbare polisiëring op Vrydag 20 Julie en Saterdag 21 Julie drasties verskerp tydens die organisasie se nasionale massapatrollie.

Altesame 110 van AfriForum se buurtwagte met ongeveer 5 000 buurtwaglede het die strate, in samewerking met die polisie, gepatrolleer om misdaad te voorkom.
Luidens ’n AfriForum-verklaring het 2 292 voertuie in een aand 51 881 km afgelê.

Danksy die verhoogde sigbaarheid is 120 verskillende misdaadverwante voorvalle, van onder meer drink in die openbaar tot verdagte voertuie, tydens die massapatrollie hanteer.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo, het by navraag gesê die lede het oor die twee dae van 20:00 tot 06:00 gepatrolleer. In Bela-Bela het 45 lede van die Radium-, Roodekuil, Turfbult en Langlaagte-buurtwag (RTL), asook die Eersbewoond- en Warmbad-buurtwag deelgeneem aan die patrollie.

“Die doel van die nasionale patrollie was om sigbaarheid te verhoog en samewerking te verbeter. Deur dit te doen word misdadigers outomaties uit die gemeenskap geskuif,” het Grobbelaar gesê.

Harold Spencer van RTL het by navraag gesê goeie sigbaarheid kan wonders verrig.

“Die paaie was die heeltyd besig en misdaad het aansienlik gedaal, veral in Radium. Danksy sigbaarheid praat mense onder mekaar en weet hulle dat niemand tydens die patrollie ’n kans moet waag om misdaad te pleeg nie,” het Spencer gesê.

Hoewel buurtwagte uitbrei is daar steeds ’n behoefte aan nuwe lede.

Spencer het gesê die huidige lede kan self bepaal watter tye hulle patrollie wil ry en dat aanhoudende sigbaarheid die kern tot misdaadvoorkoming is.

Die nuutgestigte plaaslike reaksiespan (RSRT) dien ook ’n belangrike rol en hulle lede kan op noodgevalle reageer. Dié lede ontvang opleiding by die polisie oor hoe om te reageer en hoe om misdaadtonele te be-nader, het Spencer vroeër gesê.

“Ek glo ons het beslis in ons hoofdoel geslaag en wil veral die polisie bedank wat ons goed ondersteun het,” het Grobbelaar gesê.

Mense wat belangstel om deel te word van die buurtwagte, kan vir Janes Boshoff, Afri-Forum-takvoorsitter, bel by tel. 072 492 7087 of vir Hans Joubert (Eersbewoon) by tel. 072 116 9897, Chris Esterhuizen (RTL) by tel. 082 807 7933 of vir Emden Els (Radium) by tel. 082 925 1065.

Vir RSRT kan mense vir Gerhard Olivier bel by tel. 079 527 9988 of vir Alex Poalses by tel. 083 252 3030.

Related Articles

Back to top button