CrimeNews

Boer soek ’n Vrou-deelnemer in die hof

Een van die gewildste deelnemers aan die huidige Boer Soek 'n Vrou-reeks en 'n boorling van Modimolle, is volgens die polisie op Vrydagoggend 20 Julie op 'n bedrogklag in hegtenis geneem.

Drama om die gewilde kykNET-televisiereeks Boer Soek ‘n Vrou speel blykbaar nie net voor die kameras af nie, maar ook daaragter.

Die 23-jarige Toanette Els, een van die gewildste deelnemers aan die huidige Boer Soek ‘n Vrou-reeks en ‘n boorling van Modimolle, is volgens die polisie op Vrydagoggend 20 Julie op ‘n bedrogklag in hegtenis geneem. Die jong wildboer het dieselfde dag in die hof in Modimolle verskyn en is op borgtog vrygelaat.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie het die voorval bevestig. Die klaer in die saak beweer dat sy R10 000 in Els se rekening betaal het vir ‘n kursus wat Els deur Rangers In Training buite Modimolle aanbied.

Dié kursus het glo nooit plaasgevind nie en die klaer beweer sy het, ten spyte van herhaalde versoeke, nie haar geld teruggekry nie.

Die saak is uitgestel na Woensdag 15 Augustus.

Wilmer Muller, publisiteitsbestuurder van Boer Soek ‘n Vrou, het by navraag aan Die Pos gesê dié voorval beïnvloed nie Els se verskyning in die reeks nie.

“Boer Soek ’n Vrou is sedert Februarie in produksie en episodes word ’n geruime tyd voordat dit op lug verskyn, geskiet.

Toanette is reeds in April as een van die toptiendeelnemers geïdentifiseer,” het hy gesê.

“kykNET neem kennis van die aantygings teen Toanette en respekteer die regsproses wat dit tot gevolg het.”

Related Articles

Back to top button