CrimeNews

Klerewinkel helder oordag beroof

Een van die werknemers is met ’n wapen aangehou en die ander een is gedwing om op die grond te lê.

Vier rowers het doodluiters met ’n trollie vol selfone uit ’n klerewinkel in Modimolle gestap nadat die werknemers onkant gevang is.

Twee werknemers van Markham in die ModiMall was besig met hul daaglikse take toe twee van die mans hulle met wapens gedreig het, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, bevestig.

Die voorval het op Dinsdag 17 Julie, kort voor 11:00, plaasgevind. Een van die werknemers is met ’n wapen aangehou en die ander een is gedwing om op die grond te lê. Die boewe het aangedring op die sleutel van die stoorkamer waar hulle 112 selfone in ’n winkeltrollie gelaai het. Die vier mans het daarna doodluiters uit die winkel gestap.

“Geen skote is gevuur nie en niemand is beseer nie,” het Findlay gesê. Lede van die speurdienste en die plaaslike kriminele rekordsentrum het die toneel deursoek vir leidrade.

Twee werknemers van ’n nabygeleë winkel het aan Die Pos gesê dat hulle nie meer veilig voel nie. “’n Mens  weet nie wie is ’n kliënt en wie kom jou roof nie. Ons is bang.”

Johan Barnard, ’n motorwag, het gesê die mans het rustig uit die sentrum gestap.

“Ek het hulle met hul trollie, waarin twee groot sakke was, gehelp en hulle uit die parkeerplek beduie. Daar was niks verdags nie. Hulle het rustig weggery met hul silwer Volkswagen Polo. Dis eers toe die polisie opdaag dat ons hoor wat gebeur het,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button