CrimeNews

Kyk uit vir strikke in veld

Die stel van strikke kan tot groot probleme lei.

Strikke vir diere is die afgelope tyd in die Bospoort-omgewing buite Bela-Bela gevind.

Volgens die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (LEDET), is die stel van strikke en wippe om diere te vang onwettig.

Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het reeds sy lede ingelig dat strikke op eiendomme gevind is.

Natasja Kemp, sekretaresse van die GPF, asook ’n inwoner van Bospoort, het by navraag gesê die stel van strikke kan tot groter probleme lei.

“’n Koedoe met doringdraad om sy nek wat vermoedelik van ’n strik kom, het ’n ruk gelede in ons erf beland. Dit gebeur egter deesdae dat honde wat uit hul eienaars se erwe wegloop, in hierdie strikke gevang word.”

Volgens haar word die strikke meestal in die onontwikkelde erwe aangetref. Bospoort is een van die mees bebosde gebiede buite Bela-Bela en kwaaddoeners kan maklik wegkruip, het sy gesê. GPF-patrollies vind egter nou gereeld daar plaas.

Kemp het gesê sy weet van drie voorvalle waar strikke gestel is.

Die jagseisoen is ook nou oop en jagters mag dus wettig diere op wildplase en sekere privaat grond in Limpopo jag, mits hulle ’n jagpermit het. Luidens ’n kennisgewing wat LEDET in Februarie in die provinsiale staatskoerant gepubliseer het, mag geen diere in Bospoort (450 KR) gejag word nie.

Thomas Ramalekana van LEDET in Modimolle het by navraag gesê diere kan slegs met die toestemming van die grondeienaar gejag word. Professionele jagters kan hierdie taak namens iemand uitvoer.

“Dit is onwettig om strikke of wippe vir diere tel stel. Oortreders kan ’n stewige boete opgelê word,” het Ramalekana gesê.

“Indien mense op strikke afkom, stel ons voor dat hulle dit dadelik by die owerhede aanmeld — nie eers weke later, soos wat soms gebeur nie.”

Kemp het gesê inwoners moet toesien dat hul diere veilig binne hul erwe is.

Inwoners kan die LEDET-kantoor in Modimolle skakel om strikke by die departement aan te meld. Skakel tel. (014) 717 1055 of bel vir Kemp by tel. 078 777 7176.

* Vir die volledige lys van eiendom in die onderskeie distrikte in Limpopo waar mense nie mag jag nie, besoek die webwerf www.gpwonline.co.za/Gazettes/Pages/Provincial-Gazettes-Limpopo.aspx besoek. Die publikasienommer is 2891 23-3 Limpopo.

Related Articles

Back to top button