CrimeNews

Diewe slaan in nag toe

Die diewe het items in die leefarea gesteel en na een van die jongmense se kamers gegaan terwyl hy nog geslaap het.

Drie jongmense in hul 20’s wat in die Bospoort-omgewing buite Bela-Bela woon, is geskok nadat hulle tussen Sondagaand 1 Julie en Maandagoggend 2 Julie in hul woonstel besteel is terwyl hulle geslaap het.

Die diewe het vermoedelik vooraf die elektriese heining om die eiendom geknip waarna hulle een van die ruite van die huis met ’n skroewedraaier oopgemaak en toe-gang tot die huis verkry het, het Natasja Kemp van die Bospoort-buurtwag en lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), by navraag gesê.

Brenda van Bosch, eienaar van die perseel, het aan Die Pos gesê die jongmense, wat anoniem wou bly, is besig om tot verhaal te kom ná die gebeure.

“Die diewe het items in die leefarea gesteel en na een van die jongmense se kamers gegaan terwyl hy nog geslaap het. Niemand het wakker geword toe die diewe in die huis was nie,” het Van Bosch gesê. “Dit moet skrikwekkend wees om te weet dat ’n misdadiger in jou kamer was.”

Die diewe het onder meer ’n handsak, skootrekenaar, selfone, twee beursies en klere gesteel, het sy gesê.

Van Bosch beoog om die heining om die eiendom weer na te gaan en om honde as veiligheidsmaatreël aan te hou.

“Ons grootste probleem is die ou gholfbaan oorkant ons. Daar is gereeld mense wat daar ronddrentel en verdag voorkom,” het sy gesê.

Die Royal Northlands-gholflandgoed staan al geruime tyd leeg. Die Pos het al herhaaldelik berig oor die gevaar van dié leë perseel met betreders wat gereeld bome onwettig vir vuurmaakhout afsaag, dit wat nog oor is van die ontwikkeling vandaliseer of vullis daar stort.

Die Bela-Bela-munisipaliteit het geen planne om die gholfbaan op te knap sodat dit weer gebruik kan word nie, is vroeër aan Die Pos gesê.

Die diefstal in Bospoort is reeds by die polisie aangemeld, het Van Bosch gesê. Sy was veral beïndruk met die polisie se vinnige reaksie die oggend ná die inbraak.

Sy het gesê jongmense in die dorp moet paraat wees.

Kemp het gesê dit is sulke gevalle wat mense in die omgewing dwing om wakker te skrik. “Meer mense moet by die buurtwagnoodgroep inskakel en intussen enige verdagte optrede so gou moontlik aanmeld.”

Vir meer inligting bel vir Kemp by tel. 078 777 7176.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button